Nog slagoffers van die pastoorpaar wat na bewering seksuele misdrywe met meisies in Worcester gepleeg het, het na vore gekom, en nou word die egpaar deur nóg aanklagte in die gesig gestaar.
Die borgtogaansoek van Valerie en Derek Wolfaardt, die twee pastore wat onder meer aangekla word van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie, is weer eens uitgestel.
Die twee was veronderstel om Vrydag 26 Augustus vir ’n formele borgtogaansoek te verskyn. Luidens hofstukke sal die formele borgtogaansoek nou Vrydag 9 September plaasvind. Die aansoek is uitgestel om verdere aanklagte by die klagstaat te voeg.
Valerie is op 11 Julie in hegtenis geneem en aangekla van verskeie seksuele misdrywe met minderjarige meisies. Die vermeende misdrywe het glo sedert 2016 plaasgevind.
Volgens die polisieverslag was een van die klagtes dat meisies bedwelm en ontklee is, waarna naakfoto’s van hulle geneem is. Valerie se regsverteenwoordiger het haar egter nog voor haar eerste borgtogaansoek-verskyning aan die saak onttrek.
Haar man, Derek, is eers op 25 Julie in hegtenis geneem nadat die polisie se ondersoekbeamptes hard gewerk het om ’n saak teen hom te bring. Hulle sou op 26 Julie saam vir ’n borgtogaansoek verskyn, maar die saak is destyds uitgestel.
Die egpaar, wat voorheen ook weens seksuele misdrywe en die verkragting van drie minderjariges in die tronk was, bly tot hul volgende verskyning in aanhouding.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het vroeër aangedui hy sal die twee se borgtogaansoeke teenstaan.




