Pastoor Dawid Arendse en sy vrou, Celestine Jo-Anne

Credit: SYSTEM

’n Plaaslike pastoor is opgewonde om ná jare se gebed en ’n mediese terugslag nou die kans te kry om ’n gemeente op die been te bring.

Pastoor Dawid Arendse (61) het jare lank as ’n verkoopskonsultant en bemarker in die landboubedryf gewerk, maar sowat 26 jaar gelede besef sy passie is om die Here te dien.

In 2019 het Arendse ’n ernstige beroerte oorleef en die boodskap aan hom was duidelik. Dit was toe sy tyd om te woel en te werskaf om sy droom te bewaarheid en ’n gemeente tot stand te bring.

“Ek wou nog altyd vir die Here werk, maar ’n hele paar jaar gelede het ek ’n droom gehad wat my lewe onherroeplik verander het. Ek het gedroom ek stap deur ’n plaaslike skrootwerf en sien al die wrakke wat daar staan. Ek het gesien hoe die Here my wys hoe ons as mense ook soos wrakke is, maar dat ons nog soveel potensiaal het. Ek wil ander se potensiaal kan uitwys en hulle op die regte pad lei.”

Ná die beroerte het hy besluit om al sy persoonlike geld te bestee aan die bou van ’n kerkgebou en op 18 Desember sal hy sy eerste diens in sy splinternuwe gemeente in Wolseley lei.

“Veral Wolseley se jeug moet terugkeer na die Here toe en ek wil hulle en ander lei om daar uit te kom. My doel is nie om geld te maak nie.

“Die feit dat kerke deesdae sinoniem is met geld, is vir my verkeerd. Ek wil hê mense moet kom soos hulle is en die woord ervaar,” sê Arendse aan Standard.

Die Dorsvloer Open Kerk is ’n gemeente waar almal welkom is en Arendse hoop om hande te vat met hierdie gemeenskap om hulle te inspireer en geloof as hoeksteen van die omgewing op te rig.

“Ek wil hande vat saam met die burgemeester van die Witzenberg en mense weer na die Here toe te bring. Daar is soveel uitdagings in daardie omgewing, maar daar is hoop.”

Hy voeg ook by dat sy vrou, Celestine Jo-Anne Arendse, sy grootste inspirasie en ondersteuning is.

“Sy inspireer my elke dag om die beste weergawe van myself te wees en sy was ’n groot rede hoekom ek hierdie gemeente ook tot stand wil bring.”

Die inhuldigingsdiens is op Sondag 18 Desember in die nuwe kerkgebou in Dawidastraat, Montana (Wolseley) gehou. Enigeen wat wil kontak maak met pastoor Arendse kan hom kontak by 083 285 3937.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article