Swart het bytmerke op sy rug en arm in die aanval opgedoen.

Credit: SYSTEM

“Ek het gedink ek gaan doodgaan.” So sê past. Chester Swart van Worcester, wat vroeër die maand in die Paarl deur deur twee pitboel-honde aangeval is. Swart is ’n aanbieder by Worcester FM en ’n pastoor by die Fountain-kerk.

Die voorval het omstreeks 21:00 gebeur toe Swart kos wou gaan koop het. “Ek was saam met ’n vriend en ons het ’n paar meter weg van waar ek wou wees geparkeer, want die parkeerterrein was vol. Ek wou winkel toe loop.”  Die winkel waarheen Swart wou gaan, is om ’n draai, en toe hy om die draai stap, het hy die twee kwaai honde in die deur van ’n winkel waar hy moes verbystap, gesien.

“Dit was koud en nat en niemand was in die straat of op die sypaadjie nie. Toe ek die honde sien, het ek dadelik geweet ek is in gevaar.” Volgens Swart was die honde nie aan ’n leiband toe hulle daar gesit en oor die pad gekyk het nie. ’n Man, wat Swart verneem by die supermark werk, het tussen die twee honde gestaan.

“Ek het onmiddellik gestop en wou stadig terug kar toe loop sonder om die honde se aandag te trek.”

Min het hy geweet dat dit daardie oomblik sou wees dat hy om sy lewe sou begin veg. “Toe ek wegkyk, het die honde na my gekyk en op my afgestorm. Ek kon nie wegkom nie. Die twee honde het my aan al twee my bene beetgekry.”

Hy sê dit was die langste drie tot vyf minute van sy lewe toe hy die honde fisiek van hom af weggeslaan het. Hy is duidelik getraumatiseer terwyl hy vertel wat verder gebeur het. Hy sug: “Al wat ek in die stryd gesê het, was: ‘Here help my; Here help my’.”

Hy maak sy oë toe, vat aan sy kakebeen en herleef die aanval. “Daardie honde wou net by my nek uitkom en ek het met hulle gestoei terwyl ek om hulp geskree het.” Terwyl die honde hom aangeval het, het niemand kom help nie en die honde het hom rondgesleep.

“Ek glo vas die honde het die krag van die naam van die Here gevoel en my gelos, want hulle het net vanself weggehardloop.”  Die winkeleienaar het eers nadat die honde hom gelos het, op die toneel aangekom.

“My vriend, wat in die kar agtergebly het, het ook eers later – toe karre en mense by my gestop en geskree het iemand moet die honde van my afkry – besef dit is ek wat aangeval is.”

Swart skryf sy oorlewing toe aan die genade van God, want hy kon nie glo hy het die aanval oorleef nie. Hy is na die Mediclinic Paarl geneem vir behandeling. “Ek het baie pyn. Ek het agt diep bytwonde.”

Vanweë sy geloof sê Swart hy beskou hierdie aanval as ’n aanval op sy lewe. Volgens hom het hy ’n klagte teen die winkeleienaar by die polisie ingedien.

Standard het foutiewelik in vandeesweek se gedrukte uitgawe van die koerant na past. Swart verwys as past. Williams. Die koerant vra om verskoning vir die fout en vir enige ongerief wat dit veroorsaak het. 

Een van die bytmerke aan sy kuit is met steke gehe
Een van die bytmerke aan sy kuit is met steke geheg.
Chester Swart
Chester Swart wys die bytmerke wat hy opgedoen het in die pitboel-aanval twee weke gelede. Dit is hoe hy gelyk het toe hy by Mediclinic Paarl aangekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article