Inwoners van Avianpark se noodkreet is al jare lank dat hulle ’n kliniek in hul gebied nodig het. Daardie droom is in Julie vanjaar bewaarheid, maar nou meen inwoners hulle wag te lank om gehelp te word.
“Ek het een oggend met ’n asemnood wakker geword. Ek is dadelik na die kliniek toe en is toe ingelig ek moet wag. Ná drie ure se wag en ek wat aanhoudend hoor dat ek binnekort gehelp sal word, het ek maar eerder besluit om te gaan en my asma by die huis met slaap en eie medikasie te gaan behandel.”
Só vertel Sara Groenewald, ’n inwoner, aan Standard.
Groenewald, wat met ’n asmatiese bors sukkel, verduidelik sy is nie ’n ongeduldige mens nie, maar sy kan nie as sy siek is, heeldag wag om hulp te kry nie – veral nie as dit voel of sy nie asem kry nie.
“Ek was ook nie die enigste wat so lank gewag het nie. Baie ander mense het daardie dag gekla, en ons moes net wag. Ek verstaan ’n mens moet wag, maar om so lank te wag, is onmenslik.”
Iemand wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, sê sy het sowat twee weke gelede ’n afspraak gehad om haar verbande te ruil, maar is eers ure later gehelp.
“Ek moes op die dag volgens my afspraak 11:00 daar wees. Ek het ook ’n werk en ander verantwoordelikhede. Ek het gesit en wag en is ure later eers gehelp. Intussen moes ek weer anders met my werk reël en ander reëlings vir vervoer tref. Hoe het ’n mens ’n afspraak en dan word jy eers twee of drie ure daarna gehelp?”
Sandra Maritz, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê dit is vir haar ’n groot jammerte dat inwoners so voel.
“Ons is jammer om te hoor dat daar pasiënte is wat nie ’n positiewe ervaring by die Avianpark-kliniek gehad het nie. Ons is baie opgewonde oor hierdie kliniek en dat ons nou dienste aan die Avianpark-gemeenskap kan lewer. Juis daarom waardeer ons terugvoer oor ons dienslewering. Pasiënte word gevra om, terwyl hulle ’n gesondheidsfasiliteit besoek, met personeel te praat en vrae te vra as hulle onseker is oor byvoorbeeld redes vir ’n langer wagtyd of die volgende stap in hul behandeling. Pasiënte kan met gesondheidswerkers of die bedryfsbestuurder praat of gebruik maak van die hulplyn (0860 142 142).”
Sy voeg by dat almal wat na ’n fasiliteit kom volgens hul afspraak, word sover moontlik in daardie tydgleuf gehelp.
“Soms moet ons voorkeur aan mense sonder afsprake gee wanneer hul toestand as ernstig beskou word.
“Pasiënte is welkom om sonder ’n afspraak na ’n kliniek te gaan. Nadat hulle aangemeld het by ontvangs, word hul toestand geëvalueer om te bepaal hoe dringend hulle hulp nodig het.
“Mense wat die ergste siek is asook ouer mense, kinders en mense met gestremdhede, word sover as moontlik geprioritiseer.
“Indien jy sieker word terwyl jy wag, praat asseblief met die gesondheidswerker. Indien jy besluit om huis toe te gaan voordat jy gehelp is, noem dit ook asseblief aan die werker by ontvangs. Daar was onlangs ’n geval waar ’n pasiënt met ’n asmapompie ondersteun is. Sy was buite gevaar en is gevra om te wag terwyl mense wat sieker was, versorg is. Ons verwelkom terugvoer oor waar ons kommunikasie en dienslewering in ons kliniek kan verbeter,” voeg Maritz by.
Die anonieme bron het ook aan Standard genoem dat hulle voel mense van buitedorpe en selfs die Kaap wat by die kliniek aangestel word, verstaan nie die nood van die betrokke gemeenskap nie. Sy stel dit ook dat dit werksgeleenthede van inwoners in die Worcester-omgewing ontneem.
Maritz sê egter dit is nie so nie.
“Personeel wat by die Avianpark-kliniek werk, is personeel wat in Worcester by die satelietklinieke Somersetpark en Maria Pieterse gewerk het. Hulle is met die opening van die Avianpark-kliniek na die Avianpark-kliniek herontplooi, waar ’n omvattende pakket van dienste Maandae tot Vrydae gelewer word. Vakante poste word in koerante geadverteer, asook by https://www.westerncape.gov.za/jobs/”





