Wesley Soldaat wat as Soldaat en Seun aan duiwewedvlugte vir die Worcester Racing Pigeon Club (WRPC) in vanjaar se wedvlug-kompetisies deelgeneem het, is by sy klub se prysuitdeling as algehele wenner vir 2022 aangewys.
Soldaat se pa, Richard, was vir jare ook ’n staatmaker en uithaler-duiweboer.
Ná sy pa se afsterwe in 2014 het Wesley die tradisie volstoom voortgesit en druk sedertdien jaar ná jaar sy stempel op elke duiwewedvlug af.
Soldaat het vanjaar aan verskeie kompetisies deelgeneem, onder meer teen Jeftha Loffs, bestaande uit die pa-en-seun-kombinasie Jacques en Craig Jeftha, wat hulle behoorlik laat geld het en ook as kort- en middelafstand-kampioene gekroon is.
Loffs het nie net in die Hanover Ope-wedvlug in sy klub koning gekraai nie, maar ook die Unie-wedvlug oor dieselfde afstand gewen.
Soldaat het ook sy staal gewys deur nie net die wedvlug van Bloemfontein in sy klub te wen nie, maar ook in die Unie koning te kraai.
Boonop was hy konstant onder die voorlopers in ander wedvlugte waaraan hy deelgeneem het en is dus ook as algehele wenner aan die einde van die seisoen aangewys.
Wat hierdie prestasie soveel meer kleur gee, is dat die klub (een van die oudstes in die land) vanjaar sy 50ste bestaansjaar gevier het.
Die klub se algehele puntestand vir 2022 was Soldaat van Soldaat en Seun met 561, met Loffs ’n kortkop agter hom met 545.




