Die ongelukstoneel vanoggend (8 November) op die N1 naby De Doorns. Foto: One-way Towing


Vyf lede van dieselfde familie is vannag (8 November) op slag dood toe die minibus-taxi waarin hulle onderweg was na ‘n begrafnis in die Oos-Kaap betrokke was in ‘n ongeluk met ‘n vragmotor en bus op die N1 buite De Doorns.

Sowat 30 passasiers van ‘n passasiersbus – insluitend die busbestuurder – is beseer. Die bestuurder van die minibus-taxi en nog sowat 10 insittendes is ook beseer.

Almal ontvang tans mediese behandeling in Worcester-hospitaal.

Die bestuurder van die vragmotor is lig beseer en is tans onder polisiebewaking – ook in Worcester-hospitaal.

Kol. Mthetheleli Mfengu, stasiebevelvoerder van De Doorns-polisiestasie, sê die ongeluk het naby die afdraai na die Lubisi informele nedersetting by De Doorns plaasgevind.

Volgens Mfengu het die minibus-taxi en bus in die rigting van Touwsrivier gereis terwyl die vragmotor in die teenoorgestelde rigting aangery gekom het.

Hy sê die vragmotorbestuurder het glo agter die stuurwiel aan die slaap geraak waarna die voertuig eers in die bus en toe die minibus-taxi vasgery het. Volgens Mfengu het die vragmotor die bus en minibus-taxi teen ‘n berg vasgepen. Hy sê van die insittendes van die minibus-taxi is met die impak van die botsing uit die voertuig geslinger.

Die bestuurder van die minibus-taxi was egter in die voertuig vasgepen.

Verkeer moes deur De Doorns herlei word.

Mfengu sê die N1 naby De Doorns is omstreeks 05:00 weer vir verkeer oopgestel.

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article