’nDag nadat hy sy 59ste verjaarsdag gevier het, is ’n pa van twee van Somersetpark in Worcester in ’n motorongeluk dood.

Kort voordat die oorledene, Brian Benjamin, sy woning douvoordag op Maandagoggend 2 Desember verlaat het, het hy sy vrou, Leandri, gesoen en tot siens gesê.

Hy was skaars uit die huis toe keer hy terug en soengroet haar weer, waarna hy in sy motor geklim het om ’n werker in Rawsonville te gaan oplaai.

Minute later toe kry Leandri die tyding dat haar man op pad na Rawsonville in ’n motorongeluk gesterf het nadat sy motor reg van voor teen ’n voertuig wat in die teenoorgestelde rigting aangery gekom het, gebots het.

Die egpaar se dogter, Sasha-Leigh, vier eerskomende Saterdag (7 Desember) haar 18de verjaardag – dieselfde dag wat haar pa finaal ter ruste gelê gaan word. Die egpaar het ook ’n 13-jarige seun, Xylon.

Die bestuurder van die ander voertuig wat in die botsing betrokke was, Freddie Erasmus, was ten tyde van die voorval van Rawsonville onderweg na Worcester om sy ma by die bushalte by Mountain Mill Mall te gaan oplaai.

Erasmus het op die toneel aan sy beserings beswyk, terwyl Benjamin kort ná die botsing in die MediClinic Worcester aan sy beserings beswyk het.

Sers. Vivienne Hurling-Jordaan, ’n polisiewoordvoerder, sê die botsing het omstreeks 06:00 op die R101 naby Holland Farm in die Rawsonville-omgewing gebeur.

Sy sê Erasmus het in ’n wit Volkswagen Caddy in die rigting van Worcester gereis, terwyl Benjamin in sy Golf 7 TSI in die rigting van Rawsonville gereis het.

Standard Breederivier Gazette verneem die Volkswagen Caddy het weens die impak van die botsing van die pad af gery, deur ’n betonbrug gebars, oor ’n afgrond gegaan en op sy sy beland.

Volgens Hurling-Jordaan was die pad vir vier ure vir verkeer gesluit.

Sy sê die presiese oorsaak van die botsing is in dié stadium nog onbekend.

’n Hartseer Leandri het aan Standard Breederivier Gazette gesê: “Dis baie hartseer. Dit was so skielik. ’n Mens verwag nie om vroeg in die oggend sulke nuus te kry nie.

“Vir die kinders is dit maar swaar, want hulle was baie geheg aan hul pa.

“Die hoekoms en waaroms sal ons nie nou weet nie, maar wat God gedoen het, is welgedaan. Ek en die kinders gaan hom verskriklik baie mis.”

GRW Engineering het by monde van sy menslike- hulpbron-bestuurder, Antoinette Joubert, die maatskappy se medelye met Benjamin se naasbestaandes betuig.

Volgens Joubert het Benjamin, ’n spuitverwer, in Februarie 2002 by die maatskappy aangesluit. Sy sê hy het ’n rykdom kennis en ’n passie vir die bedryf saamgebring.

“Brian het van November 2019 as deel van sy eie onderneming, BB Spraypainting & Detailing, die ‘outsourced’-funksie van die Spray & Acid- afdeling op GRW se perseel bedryf en was toegewy aan uitnemendheid. Sy bydrae was beduidend.

“Terwyl ons die verlies van Brian betreur, vier ons ook die mens wat hy was en die blywende uitwerking wat hy op ons lewe gehad het.

“Brian laat nie net ’n leemte as mens nie, maar sy ongeëwenaarde kennis sal gewis gemis word.”

In nog ’n noodlottige ongeluk vandeesweek is agt mense, onder wie ses minderjarige kinders, vroeg Sondagoggend (1 Desember) dood toe die bus waarin hulle van die Oos-Kaap na Kaapstad onderweg was, omstreeks 07:15 op die N1 naby Rouxpark, Worcester, omgeslaan het.

Muneera Allie, die kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, sê die beserings van die ander insittendes wissel van ernstig tot gering.

Sy sê weens die erns van die ongeluk was die N1 naby Rouxpark tydelik vir verkeer gesluit.

Motoriste moes van alternatiewe roetes gebruik maak.

Die oorsaak van die ongeluk word in dié stadium nog ondersoek.

Die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Isaac Sileku, sê: “Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om te alle tye voorkeur aan veiligheid te gee, veral namate ons die spitsvakansietydperk nader.

“Kom ons werk saam om verdere tragedies te voorkom sodat almal hul bestemmings veilig bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article