Vrydagmiddag omstreeks 15:00 ry ek in die rigting van Worcester tussen Rawsonville en die Brandvlei-gevangenis-afrit.
Die pad is besig met Vrydagmiddag-verkeer.
Toe ek weer sien peil ’n wit bakkie op my af en sommer gou steek hy my teen ’n stink spoed verby – oor ’n soliede sperstreep en met aankomende verkeer baie naby.
Dit is toe dat ek sien dis ’n bakkie van die gevangenisdiens. Hy jaag weg teen seker 160 km/h en steek nog motors roekeloos verby en draai toe af na die Brandvlei-tronk.
Dit was skokkende gedrag, om die minste te sê.
Maar dit is ook nie ’n afsonderlike voorval nie.
Bewaarders en diegene wat by die tronk werk, is bekend daarvoor dat hulle soos absolute padvarke ry, en hierdie tendens het al tot verskeie ongelukke gelei.
Is die feit dat jy vir ’n staatsdepartement werk, jou paspoort tot wetteloosheid en roekeloosheid?
Hierdie brief sal waarskynlik op dowe ore val as dit van die owerhede afhang, maar eendag gaan die kaarte op jou omgekeer word.




