Die gure weer in die Wes-Kaap duur voort en so ook die verwoesting en chaos as gevolg daarvan.
Vanoggend (Donderdag) het talle video’s en foto’s die ronde gedoen op sosiale media van verskeie paaie wat verspoel is en toe is vir verkeer. Motoriste het op verskeie roetes in en om die Breedevallei gestrand gesit omdat hulle nie deurgang kon kry nie.
Die Hugenote-tonnel is ook sedert vroegoggend toe vir verkeer Kaapse kant toe weens modderstortings. Die Dutoitskloofpas is ook toe weens dit. ’n Gedeelte van die N1 by De Wet is ook oorstroom.
Volgens die BVM het gebiede in Rawsonville die ergste van die storms afgekom.
“Hoofsaaklik Rawsonville en die omliggende informele nedersettings is oorstroom,” het Chad Malgas, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit Donderdagoggend aan Standard gesê.
Hy noem ook dat inwoners van die geaffekteerde informele nedersettings hulp van die munisipaliteit ontvang.
“Tans is Spokiesdorp, Riverside en gedeeltes van Geelkampie oorstroom. Inwoners is tydelik na die De Nova-kerksaal geneem. Die uitdaging is egter dat inwoners nie hul eenhede wil verlaat nie, maar ons probeer dit bestuur tot die beste van ons vermoë.
“Hulp word daar gebied deur die BVM en nodige rolspelers. Ons is ook op gereedheidsgrondslag om sodra die watervlakke afneem op die rivieroewer te werk om verdere vloedskade te beperk. Ons spanne moniteer ook die weer, omliggende paaie en die gebied om hulp te bied waar nodig,” verduidelik Malgas.
Gerugte dui aan dat inwoners weer met hul protesaksie voortgegaan het en paaie in Rawsonville met klippe en rotse afgesper het.
Volgens weervoorspellings bring Saterdag nog ’n swaar bui reën. Dus het die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit ’n verklaring uitgereik waarin die burgemeester, Elna von Sclicht, inwoners vra om oor die langnaweek tuis te bly sodat paaie toeganklik is vir nooddienste en opruimingspanne.
“Die gure weer die afgelope paar dae het ’n groot impak op ons daaglikse lewe gehad. Inwoners oor die distrik heen en in die provinsie is geraak. Die stormagtige weer sal na verwagting deur die naweek voortduur, tot in volgende week. Ek vra alle inwoners om hierdie langnaweek liewer tuis te bly en slegs te reis indien dit absoluut noodsaaklik is.
“Dit is van uiterste belang dat ons ons paaie oop hou vir noodpersoneel en ander noodsaaklike dienste sodat hulle maklik by rampgebiede kan uitkom. Indien daar geen ander opsie is nie en u moet reis, volg asseblief die padreëls en instruksies van verkeers- en noodpersoneel. Kom ons wees saam veilig, bly tuis hierdie langnaweek,” lui die mediaverklaring.
Die Witzenberg-munisipaliteit het ook Donderdagoggend ’n inskrywing op sy Facebook-blad geplaas waarin hy inwoners in kennis stel dat die R43 tussen Wolseley en Ceres gesluit is as gevolg van modderstortings en dat mense glo vasgekeer is weens oorstromings.
Malgas het ook gesê Rawsonville het Woensdag 55 mm reën gekry en 60 mm is Donderdagoggend gemeet.




