Is die string botsings wat die afgelope naweek in en om Worcester gebeur het, ’n voorspelling van wat oor die Paasnaweek kan plaasvind?
Dit blyk te wees, indien motoriste nie ag slaan en by die padreëls hou nie. Volgens Hilmer van der Westhuizen, woordvoerder van die nooddiens Globalforce EMS, het hulle omtrent ’n besige naweek gehad.
Dit het reeds Vrydag 1 April omstreeks 16:40 begin toe ’n vragmotor deur ’n plaasmuur naby Botha-kelder op die Wolseley/Ceres-pad gebars het.
Drie mense is beseer, sê Van der Westhuizen.
’n Noodlottige botsing het op die N1 buite Worcester, naby Bergsig-vulstasie, tussen ’n swaar en ’n ligte motorvoertuig gebeur. Twee mense is in dié botsing dood.
Sers. Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, sê polisiebeamptes is Saterdag omstreeks 20:25 na ’n botsing by die Rainbow Farms-afdraai ontbied waar ’n vragmotor en ’n motor gebots het.
“Met hul aankoms op die toneel het hulle die vragmotor langs die pad aangetref en die motorvoertuig by die afdraai na die Rainbow-plase – nie ver van mekaar nie. Volgens die bestuurder van die vragmotor was hy van De Doorns na Worcester onderweg. Die motor, ’n maroenkleurige Toyota Corolla, wat van Worcester na De Wet onderweg was, het by die afdraai by Rainbow Farms op die N1 reg voor die vragmotor ingedraai.”
Sy sê ’n bestuurder met ses passasiers was in die motor. Twee is op die toneel dood verklaar. Die twee oorledenes het op die agterste sitplek gesit.
“Die bestuurder van die Toyota het ernstige beserings opgedoen en die ander passasiers is almal ernstig beseer. Hulle is na die Worcester-hospitaal geneem. Die bestuurder van die vragmotor het geen sigbare beserings opgedoen nie.”
’n Saak van strafbare manslag is geopen.
Nog ’n noodlottige voorval het enkele ure ná die Bergsig-botsing op die Robertson-pad gebeur toe ’n voetganger doodgery is. Volgens Van der Westhuizen is die voetganger op die toneel dood.
Plan van aksie
Intussen het Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse minister van vervoer, gesê die provinsie is gereed om sy gefokusde verkeersveiligheidsveldtog van stapel te stuur aangesien die Paasnaweek naby is.
“Ons verwag net soos in die (onlangse) feestyd weer eens ’n aansienlike beweging van voertuigverkeer op ons paaie.
“Talle mense is van plan om gedurende die langnaweek na verskeie bestemmings te reis, insluitend bestemmings in die Wes-Kaap.”
Mitchell sê na aanleiding van die president se aankondiging om die nasionale ramptoestand te beëindig, sal hulle hul normale prosedures volg.
“Terwyl die opheffing van die meeste beperkings goeie nuus vir die toerisme-ekonomie van die Wes-Kaap is, sal dit van ons vereis om ekstra maatreëls te tref om motoriste en ons paaie veilig te hou. Ek sal volgende week ’n gedetailleerde Paastyd-veiligheidsplan aankondig,” sê Mitchell.


