WORCESTER – ’n Plaaslike paartjie het vroeër vandeesmaand hul televisiedebuut op die program, Afhaak, gemaak.
Keshia en Andrew Pieterse is reeds op 26 Mei getroud.
Hulle het op die program verskyn nadat haar vriendin die paartjie ingeskryf het.
“My vriendin het ons ingeskryf. Sy het vir my gesê ons moet deel wees van die program, want my storie is ’n bemoedigende een,” verduidelik Keshia aan Standard & Gazette.
Sy verwys na die feit dat sy vir ’n dekade lank in verslawing vasgevang was. Sy het haarself daaruit gekry en werk tans as ’n maatskaplike werker by die Toevlug-rehabilitasiesentrum.
Hulle is toe in kennis gestel dat die bekende sanger en ook die program se aanbieder, Salome, hul troue gaan bywoon.
“Ons was baie opgewonde maar terselfdertyd ook baie nervous. Ons het nie geweet wat op ons wag nie. Andrew is maar stil en nie een van op só ’n manier te praat nie.”
In ’n gedeelte van die program deel Keshia haar storie met Salome. “Ek het baie gerus gevoel om dit met haar te deel – juis omdat ek verneem het dat sy ook ’n pad met verslawing gestap het.
“Ons het mekaar op daai vlak verstaan. En die wete dat die program nasionaal uitgesaai gaan word, het my nie afgeskrik nie.
“Ek het gedink dit wat ek deurgemaak het, en my storie, kan iemand anders bemoedig om hulself uit ’n soortgelyke situasie te kry.
“Die feit dat ek heel moontlik daai saadjie by iemand kon plant, het my meer gerusgestel.
“Ek, myself, het my inspirasie deur middel van ’n radioprogram gekry,” verduidelik sy.
Andrew en Keshia het mekaar in 2023 ontmoet.
“In daardie stadium was nie een van ons gereed om weer in ’n verhouding te wees nie. Ons het nommers uitgeruil, maar ek was nie eintlik lus om met hom te praat nie.
“Maar ons het toe uiteindelik begin praat, en so het ons verhouding begin.”
Hulle was net twee maande verloof voordat hulle die knoop deurgehak het. Maar steeds gaan hul huwelik van krag tot krag.
“Ons staan saam met mekaar. Ons bid saam.”





