’n Deel van die treinspoor tussen Kanetvlei en Seekoeigat het weggespoel. Foto: One-Way Towing


Die woeste weer van verlede week se nagevolge is nog lank nie verby nie.

Verskeie paaie en brûe het erge skade gely. ’n Gedeelte van die treinspoor in De Doorns is deur die rivier weggespoel. Baie wingerde en ander plase is diep onder water as gevolg van die reën.

Die Viljoensdrift-wynplaas wat langs die Breederivier 12 km buite Robertson geleë is, het Maandag op sy Facebook-blad ’n foto gedeel waarin gesien kan word hoeveel die watervlak gestyg het in vergelyking met die oorstromings van verlede jaar.

“Ons is diep hartseer om te deel dat Viljoensdrift verlede week erge verlies en skade in die verwoestende oorstromings gely het, wat ons geen keuse gelaat het as om ons deure tot verdere kennisgewing te sluit nie. Die beeld [foto] is ’n skerp herinnering aan die krag van die natuur en die broosheid van ons gekoesterde tuiste. Ten spyte hiervan bly ons daartoe verbind om vir jou ons beste wyne te bring,” lui die boodskap.

Hulle het ook ’n video gedeel wat verdere verwoesting toon, soos wynbottels wat deur die water wat deur ’n vertrek gevloei het, rondgestrooi is. Hulle was nie telefonies bereikbaar vir opvolgvrae nie.

Willy-John Gordon, ’n woordvoerder van die Langeberg-munisipaliteit, het gesê ’n pompstasie by Viljoensdrift is beskadig.

“Die waterpompstasie by Viljoensdrift, wat rou water aan die Ashton-watersuiweringsaanleg sowel as aan Montagu verskaf, het groot skade opgedoen. Groot werk is nodig om hierdie pompstasie te herstel.

“Ons skat dit sal minstens drie weke neem vir dié pompstasie om weer in werking te wees. Verdere herstelwerk sal nodig wees om te verseker dat die pompstasie ten volle herstel is.

“Dit het ’n direkte impak op die watertoevoer na Ashton en Montagu.

“Die Bonnie­vale-waterpompstasie by Breederivier, wat oorstroom het, asook rioolpomp­stasie sewe, is ook beskadig. Albei pompstasies is in werking, maar gedetailleerde herstel­werk moet nog gedoen word,” verduidelik Gordon.

Skade is ook aan heelwat infrastruktuur aangerig.

“Die gebiede wat die meeste geraak word, sluit McGregor en alle plase en huise aan weerskante van die Breede­rivier in.

“Hierdie gebiede het uitgebrei­de skade aan infrastruktuur ervaar.”

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het verlede week 170 inwoners uit ’n informele nedersetting in Rawsonville ontruim omdat die gebied onder water is.

“Tans word nog net twee gesinne deur die munisipaliteit gehuisves en hulle sal vandag (Donderdag) nog drie maaltye ontvang,” het John Bulani, ’n woordvoerder van die BVM, gesê.

Hy verduidelik ook die munisipaliteit gee tans aandag aan alle stormwaterblokkades.

“Ons spanne gee tans aandag aan foute met betrekking tot stormwaterblokkades wat deur die swaar reën veroorsaak word. Ons het ook ’n toename in slaggate opgemerk en weens die huidige toestande is dit moeilik om te herstel. Ons versoek die publiek om geduldig te wees en versigtig te bestuur.

“Die enigste skade aan stormwaterinfrastruktuur is in Bothastraat, Rawsonville, gesien. Ons monitor tans die funksionaliteit van die stormwaterlyn, maar sal die skade bepaal sodra toestande dit toelaat,” het Bulani verduidelik.

Masjinerie is ook ingespan om te help opruim ná die skade.

“ ’n Graafmasjien het gister [Maan­dag] in die Hexrivier beland terwyl dit die laevlakbrug ontruim het. Die voor­val is nou ’n polisie-ondersoek, en alle navrae moet aan die polisie gerig word.”

Die Worcester-polisie het bevestig ’n man het Maandag (15 Julie) verdrink.

“Volgens ’n ooggetuie, wat ’n kollega van die oorledene was, was die slagoffer, Andrey Spruit, besig om die rivier in ’n graafmasjien oor te steek. Die graafmasjien het toe in ’n gat geval en Spruit het verdrink,” het AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, verduidelik.

Foto’s van ’n bakkie wat in die rivier beland het, het ook die ronde gedoen. Volgens berigte is die bestuurder ongedeerd. Dit blyk die voorval het gebeur by die brug by Johnsonspark, bekend as Drie bruggies, wat weggespoel het. Verskeie mense moes deur die BVM en ander rolspelers se bekwame reddingswerkers met bote na veiligheid geneem word.

In ’n video kan gesien word hoe ’n groot deel van die treinspoor tussen Kantevlei en Seekoeigat weggespoel is.

Die landboubedryf het nie groot skade aangemeld nie, maar wel genoem dat die hoeveelheid reën by graan­boere kommer wek.

Volgens Bulani is die R101 in Rawsonville, Aan de Doorns- pad en die De Wet-brug nog gesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article