Japie en Johanna De Jager het onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier. Oom Japie vier môre (Vrydag 10 Februarie) sy 95ste verjaardag. Foto:

Credit: SYSTEM

Oom Japie de Jager, die stigter van die alombekende De Jagers-klerewinkel, vier môre (Vrydag 10 Februarie) sy 95ste verjaardag.

Nie te lank gelede nie het hy en sy vrou, Johanna, hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Oom Japie het die befaamde klere-kettingwinkel in 1955 in Worcester geopen. Die groep se webtuiste verduidelik hy het op 27-jarige ouderdom van Keetmanshoop in Namibië Kuilsrivier toe verhuis en saam met sy broer, Frikkie, en dié se vrou, Babs, na plekke begin soek om die winkel te open. Hul soektog het hulle na Worcester gelei, en binne ’n dag nadat hy ’n plek na sy smaak gevind het, het hulle ’n toonbank en ander toebehore vir die winkel gekoop en die huurkontrak onderteken.

Van daar af het sy skoonsuster (Babs) ’n tak in Kuilsrivier geopen, en toe het sy broer ’n jaar later een in Stellenbosch gevestig. In 1996 het die volgende geslag De Jagers – Jobre, Andries en Pieter – die leisels oorgeneem en die onderneming laat groei tot wat dit nou is.

“My pa het baie hard gewerk om die winkeltjie ’n sukses te maak,” sê Andries De Jager.

Japie en Johanna het mekaar in 1961 ontmoet. Sy was toe nog ’n onderwyseres.

“My ma het by die Laer Seunskool vir 42 graad 1-seuntjies skoolgehou. Dit was baie harde werk. Hulle het deur gemeenskaplike vriende in 1961 ontmoet en ook saam Volkspele gedoen. My ma het ’n beter pos in Patensie gekry en my pa het besef dat hy die pragtige meisie gaan verloor,” verduidelik hy.

Die paartjie is twee jaar later in 1963 getroud en het vyf kinders in die lewe gebring.

“Ons het gevoel ons hou van mekaar en ons kom reg met mekaar. Toe het ons later besluit hoekom sal ons wag totdat ons stokhoringoud is?” vertel tannie Johanna.

Terwyl tannie Johanna op Patensie skoolgehou het, het oom Japie gereeld daar by haar gaan kuier.

“In die jaar wat hy in Patensie by tannie Johanna gaan kuier het, het hy haar ook na sy geboortedorp en grootword-plaas buite Albertinia genooi om aan sy ouers voor te stel. Die mense van Albertinia kon nie verstaan waarom hy agter ’n vrou Patensie toe aanry as daar dan soveel oulike vroue in sy tuisdorp was nie.

Tannie Johanna sê haar ma het gedink die winkel gaan nie vir die gesin kan voorsien nie. “Hierdie winkeltjie? Nee, my kind, hier gaan jy nie ’n lewe kan maak nie,” onthou tannie Johanna oor wat haar ma gesê het. “Jy gaan nie jou onderwyssalaris verdien nie; jy gaan nie bo uitkom nie – jy moet ’n ander plan maak.”

Suria Basson, een van die paartjie se kinders, meen die rede vir hul langdurige huwelik is hul liefde vir mekaar en vir God.

“Hulle het deur dik en dun, voor- en teëspoed, bymekaar gebly. Hul liefde vir mekaar en vir hul God is sigbaar in alles wat hulle doen. Ons as kinders, tesame met die winkel, was altyd bo-aan hul prioriteitslys.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article