Die biologiese pa van ’n minderjarige meisie is op 11 November in die Worcester-streekhof vir 20 jaar tronk toe gestuur nadat hy sy kind in hul informele struktuur in Nkqubela, Robertson, verkrag het.
Die vonnis kom te midde van die veldtog 16 dae van Aktivisme vir Geen Geweld teenoor Vroue en Kinders, en het tussen 2018 en April 2019 plaasgevind toe die meisie agt en nege jaar oud was.
Die skuldige en die klaer het saam met haar ma en twee sibbe gewoon.
Die naam van die kinderverkragter word weerhou om nie die kind se identiteit bekend te maak nie.
Die dade met die meisie het by verskillende geleenthede plaasgevind wanneer haar ma soggens vroegoggend die huis verlaat het. Die meisie se pa het haar gedwing om by die huis te bly en nie skool toe te gaan nie.
’n Oplettende en sorgsame onderwyseres by haar skool het besluit om vas te stel wat die rede is hoekom die meisie nie skool bywoon nie.
Kort nadat die onderwyseres na die kind uitgereik het, het sy haar en ’n kollega vertel wat haar pa aan haar gedoen het. Die meisie se ma is skool toe ontbied waarna die saak by die polisie aangemeld is.
Die pa is kort hierna in hegtenis geneem.
’n Mediese ondersoek het bevestig die kind is verkrag.
Die voorsittende beampte in die hof het met vonnisoplegging gesê die kind se pa het haar kinderjare vernietig, en sy sal hierdie emosionele letsels vir die res van haar lewe saamdra.



