’n 28-jarige man en sy pa het al hul besittings in ’n brand verloor.
Die brand het Vrydag (8 Desember) omstreeks 12:00 by Novemberstraat 37 in Roodewal uitgebreek.
“Ek was by die werk toe iemand my om 12:30 gebel en van die brand vertel het. Ek was uit die veld geslaan en kon dit nie glo nie. Ek het onmiddellik my bestuurder daarvan vertel en hy het gesê ek moet huis toe gaan,” verduidelik Ryan January.
Toe hy by hul woning aankom, was die brandweer nog besig om die brand te blus.
“Seker so vyf minute nadat ek daar aangekom het, het die brandweer die vuur onder beheer gebring en geblus. Ons weet nog nie hoe die brand ontstaan het nie.”
January woon al sy hele lewe lank in hierdie informele struktuur – saam met sy pa, wat nog langer daar woon.
“Ons het al ons besittings verloor. Ons bly saam met familie op die erf en gelukkig het hulle huis nie gebrand nie. Ek was baie hartseer toe ek sien hoe ons huis agterna lyk. Ek het gehuil.”
Hy vertel ook dat hulle binnekort gaan begin herbou.
“Die plan is om voor Kersfees weer onder ons eie dak te wees. Ons gaan hopelik vandag (Dinsdag) die geraamte wat ná die brand oorgebly het, afbreek en weer begin bou.”
Alhoewel January se pa tuis was toe die brand begin het, is hy ongedeerd en niemand anders is tydens die voorval beseer nie.





