’n Tienjarige seun en sy pa is Sondag 20 Augustus in Wolseley doodgeskiet.

Min inligting is op hierdie tydstip bekend. Standard het ’n navraag aan die Wolseley-polisie gerig, maar nog geen terugvoer is ontvang nie. Die provinsiale polisie het wel die volgende gesê: “Neem asseblief kennis dat die omstandighede oor die voorval wat in u navraag aangehaal word, nou die onderwerp is van ’n ondersoek deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD).”

Volgens inligting verskaf deur ’n betroubare bron het ’n man op die pa en seun losgebrand.

“ ’n Lesotho-burger het op die pa en seun geskiet. Toe die polisie op die toneel in Pine Valley kom, was daar ’n oor-en-weer-skietery tussen die skieter en hulle. Een van die polisielede op die toneel wat teruggeskiet het, het toe glo die verdagte gewond en hy is ook dood,” verduidelik die bron.

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat aanleiding tot die skietery gegee het.

Talle gerugte doen tans die ronde, en dit sluit in dat die skieter glo ’n taxi-huurmoordenaar, verbonde aan die Marashea-bende, is. Hierdie bende bestaan glo uit Lesotho-burgers wat onwettig in die land is en ’n skrikbewind in die Pine Valley- informele nedersetting voer.

Ander inligting voer aan die seun is net in sy woning deur die skieter gedreig en net sy pa is doodgeskiet. Twee verskillende bronne het egter bevestig die seun is wel saam met sy pa vermoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article