Carlo Abrahams en sy pa, Izak, wie se stryd met kanker daartoe gelei het dat Carlo geld vir kankerpasiënte insamel.

Credit: SYSTEM

Carlo Abrahams, ’n inwoner van Worcester, hou op 20 Augustus vanjaar ’n insameling ten bate van Kansa. Hy hou sedert 2016 soortgelyke geleenthede ten bate van kankerpasiënte.

Carlo het met insameling begin nadat hy sy pa, Izak, in 2015 aan kanker afgestaan het. Volgens Carlo het kanker sy pa, ’n energieke man, geneem en van hom iemand gemaak wat daagliks van ander se hulp afhanklik geword het.

Carlo het in 2016 met ondersteuning van kankerpasiënte begin. “Covid-19 het in 2020 gekom en geen byeenkomste kon gehou word nie, dus het Kansa bitter min ondersteuning gehad,” sê Carlo. “Die verandering het gemaak dat kankerpasiënte nie meer doeke, melk of ander benodigdhede kon bekostig nie.”

Vanjaar se insamelingsgeleentheid gaan groter en beter wees as enige van die voriges. ’n Formele dinee met ’n driegangmaaltyd en orkes word by die pragtige Langsikoppie Venue & Events aangebied.

Kunstenaars wat gaan optree, sluit in Anslin Gysman, Candice Thornton, Elwira Standili, Carl Abrahams en vele meer. Schaney van Wyngaard (Tik Tok-persoonlikheid) sal die aanbieder wees.

Sakeondernemings wat die geleentheid graag wil ondersteun, kan skenkings van onder meer doeke, melk en ander benodigdhede vir begunstigdes bydra.

“Ons doen dit hierdie jaar vir elke kankerpasiënt,” sê Carlo.. Kaartjies kos R300 vir ’n enkelkaartjie, R500 vir ’n dubbelkaartjie en ’n tafel vir tien mense kos R2 500.

Vir navrae kontak Carlo Abrahams by 065 844 5440 of carload.music@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article