Die ondenkbare het in ’n oogwink gebeur en Pieter Beukes se gesin is van hom weggeruk.
Sy vrou, Juanita (49), hul dogter, Emma (gr. 11) en die egpaar se seun, Stephan (gr. 10), is Sondagoggend (2 Februarie) dood in ’n botsing teen ’n Volkswagen-minibus op die kruising van die R312- en R304-pad naby Fisantekraal.
Pieter het in die Hexrivier-omgewing grootgeword en is die seun van Hennie en Kotie Beukes. Sy pa is reeds oorlede. Sy familie boer steeds in die omgewing.
Die gesin, wat in Bellville woon, was op pad terug nadat hulle by vriende in Ceres gekuier het. Juanita het blykbaar vroeër teruggery sodat die kinders betyds vir kategese kon wees, met Pieter wat ’n ruk later gevolg het.
Juanita en Emma is op die toneel dood en Stephan is met sy aankoms by die Mediclinic Cape Gate dood.
“Ons kan net bespiegel wat gebeur het, maar die Volkswagen-minibus het Juanita se motor getref toe hulle in die kruising was. Die motor het eers 70 m verder tot stilstand gekom,” het H.D. Beukes, Pieter se broer, gesê. “Dit is ’n baie swaar tyd vir ons familie en veral vir Pieter. Ons ontvang baie ondersteuning uit die gemeenskap en selfs van ou skoolvriende.”
Albei broers het aan Paarl Gimnasium gematrikuleer.
Die nege insittendes in die minibus is lig beseer.
Juanita was sedert 2003 die bestuurder van maatskaplike dienste by Badisa en word wyd geprys vir haar passie en die deernis waarmee sy haar werk aangepak het.
Emma en Stephan was leerders aan die Hoërskool Durbanville.
Die Hoërskool Montana in Worcester se leerders het Maandagoggend kerse aangesteek om hul medelye met die familie te betuig.
Talle mense het op sosiale media te velde getrek teen die gevaarlike kruising waar verskeie noodlottige botsings reeds talle lewens geëis het.





