PG Vorster en sy dogter Liza-Mari kort nadat hy die eindstreep oorgesteek het.


’n Plaaslike pa het aan die gewilde en uitmergelende Iron Man-kompetisie deelgeneem om sy kinders te wys harde werk en oefening help om dinge te bereik.

PG Vorster (45) het tien maande gelede besluit om aan hierdie taai uitdaging deel te neem, al het hy voorheen die halwe Iron Man voltooi.

“Ek wou my kinders wys met harde werk, toewyding en oefening kan jy enigiets bereik,” vertel Vorster, ’n pa van vier.

Hy het vir die hele tien maande ses dae per week geoefen – in reën en sonskyn.

“Dis moeilik om heeltyd gemotiveerd te bly om 04:00 op te staan om te gaan oefen. Maak nie saak hoe die weer was nie, ek moes opstaan en oefen. Soms het ek in die aand geoefen om my liggaam ’n bietjie van ’n breek te gee en ek het een dag per week heeltemal gerus en tyd saam met my vrou en kinders deurgebring.”

Op die vraag waarvan hy die minste tydens sy voorbereiding gehou het, het hy sonder huiwering geantwoord: “Swem; ek was nog nooit ’n swemmer nie.”

Die Iron Man-kompetisie bestaan uit 3,8 km swem, 180 km fietsry en 42 km hardloop. Vorster het dit in 14 uur en vyf minute voltooi. Hy het 27ste in sy ouderdomsgroep geëindig, 233ste in die mansafdeling en 289ste algeheel. Altesaam 606 atlete het deelgeneem.

Die beste deel van hierdie lang proses was natuurlik toe hy die eindstreep oorsteek. “Ek het trots op myself gevoel, want nie baie mense voltooi die Iron Man nie. Ek het ook verligting ervaar, want toe was die oefening verby en nou kan ek weer tyd saam met my familie deurbring. Hulle was ook almal baie gelukkig en trots op my. Ek probeer die kinders oortuig om dit ook te doen, maar hulle byt nie.”

Al wil hy nie gou weer vir so lank oefen nie, is daar ’n hele paar ander wedlope waaraan hy in die toekoms wil deelneem. Vir nou rus hy eers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article