Primrose-rugbyklub van Worcester het Saterdag (5 Augustus) lelik vasgeval toe Overhex hom in Overhex met 24 punte teenoor 15 geklop het.
Overhex was vinnig uit die blokke met sy balverspreiding en aanvalle. Primrose moes gevolglik van die begin van die wedstryd af lelik bontstaan om te verdedig.
Primrose het egter ’n strafskop gekry en homself op die aanval geplaas. Hy het die lynstaan gewen, met sy dryfbewegings begin en pragtig gevorder, maar oorgretigheid het hom gekortwiek en verhoed om punte aan te teken. Die Overhex-damwal het egter gebreek en Primrose se senter Octavier Cupido het vir ’n onverdoelde drie deurgedraf (telling 5-0 vir Primrose).
Overhex het kort ná die inskop ’n strafskop gekry en die telling 5-3 vir Primrose gemaak.
Primrose was kort daarna weer op die aanval.
Uithaler-rugby is gespeel word. Overhex kry egter omgekeerde besit, stuur sy agterlyn weg en hulle gaan druk onder die pale. Die doelskop is suksesvol en die telling 10-5 vir Overhex.
Sergio Adams, een van Primrose se vleuels, het egter ander planne gehad toe hy die bal kry. Hy het die verdediging geklop en hoekie toe genael vir sy drie, met die telling 10 punte elk.
Overhex het egter weer ’n strafskop gekry toe Primrose fouteer. Die poging pale toe was onsuksesvol en die rustydtelling het op 10 elk bly staan.
Primrose het ná die pouse afgeskop. Overhex het die bal gekry en die kantlyn opgesoek. Die Worcester-span het die lynstaan gewen en sy agterlyn weggestuur, met Octavier Cupido wat sy tweede drie gaan druk het (telling 15-10 vir Primrose).
Dit het egter gelyk of Primrose se stelskoppers hul skopskoene by die huis vergeet het en die manne het mekaar se sweet met die aanval op aanval getap. Overhex het sy drie asook die doelskop gekry, met die telling 17-15 vir Overhex.
Primrose het alles uitgehaal om die agterstand uit te wis, maar Overhex het nog verdoelde drie gedruk, met die eindtelling 24-15 vir Overhex.

