Die Primrose-rugbyklub het Saterdag (19 Februarie) sy rieme styfgeloop toe Overhex-rugbyklub hom op Overhex met 47 teenoor 27 ore aangesit het.

Met ’n sterk wind wat oor die veld gewaai het, het dit die hantering van die bal bemoeilik. Met Primrose se afskop het Overhex die bal ontvang, maar dit aangeslaan. Primrose het die skrum gewen, sy agterlyn weggestuur en oudergewoonte het sy vleuel Leachim Adams 40 m vir ’n onverdoelde drie deurgehardloop (telling 5-0).

Overhex het ingeskop en Primrose het die sterk wind mooi gebruik en Overhex vir ’n lynstaan teruggejaag.

Overhex het die lynstaan gewen en pragtig met sy swaar pak voorspelers gedryf, maar Primrose het nie ’n tree teruggestaan nie. Uiteindelik het die damwal gebreek en Overhex het met krag oorgegaan vir sy drie (telling 7-5 vir Overhex).

Primrose het ingeskop en Overhex het onmiddellik weer begin dryf en die bal aan sy agterlyn besorg, wat pragtig gehardloop en sy tweede drie gedruk het (telling 14-5). Primrose moes weer inskop en Overhex het ver teruggeval.

Die sterk wind het die balverspreiding benadeel, maar met die bal in hand is Primrose altyd gevaarlik.

Ná ’n lynstaan is ’n losgemaal gevorm en Primrose se stut Lewellyn Connie Eftha het vir ’n onverdoelde drie oorgebars (telling 14-10), maar toe Primrose weer die bal uit ’n skrum kry, het die stut Eftha vir sy tweede pragdrie oorgestorm. Die doelskop was ook mis – dit het gelyk asof Primrose se losskakel sy skopskoene by die huis vergeet het (telling 15-14 vir Primrose). Ná die soveelste inskop het Primrose weer aangeval, maar sy balhantering en foute het hom in die steek gelaat. Overhex het dit uitgebuit, verwoed aangeval en sy volgende drie gedruk (telling 21-15 vir Overhex; wat ook die rustydtelling is).

Overhex het die tweede helfte afgeskop en Primrose het aangeslaan. Overhex het die skrum gekry. Primrose het weer sy swaar pak voorspelers tot oor die voordeellyn laat vorder en sy agterlyn weggestuur, waarna nog ’n drie gevolg het. Die doelskop was egter mis (telling 26-15 vir Overhex). Overhex het die pas aangegee en die een aanval na die ander afgestuur, maar Primrose het nie moed opgegee nie.

Primrose het van die min balbesit ná ’n lugskoppie deur die senter Rushdi Levendal gebruik gemaak, wat gevolg is deur die heelagter, Shaun Ceasar, wat in die hoek gaan druk het. Duwayne Muggels het met die doelskop geslaag (telling 26-22).

Primrose het met volgehoue druk ’n oorstootdrie gekry (telling 27-26 vir Primrose), maar Overhex het ander planne gehad en met aanhoudende druk nog twee vinnige drieë gedruk om die eindtelling op 47-27 vir Overhex te laat beland. Primrose se B-span het 14-10 teen Overhex verloor. . Primrose reis Saterdag na Hermanus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article