Die Mega Oval Worcester bied Vrydag 30 en Saterdag 31 Augustus die Suid-Afrikaanse Womza-ovaalbaankampioenskap aan.
Vyf Klasse gaan om SA titels meeding, waaronder die 1600-sedans, die 1660- gemodifiseerde sedans, die Heavy Metals, Hotrods en V8 Flexi’s.
Die Midgets en viersilinder-kontakklas gaan as ondersteuningsklasse meeding.
Die byeenkoms word geborg deur PST Vervoer, Partsco en Discount Boards & Timber.
Die renne begin Vrydag om 18:00 en Saterdag om 15:00.
Toegang beloop R120 per volwassene en kinders 6 tot 12 betaal R50 per dag. Kaartjies vir die naweek beloop R200 per volwassene.
Xtreme Panel & Spray Midget-klas
Die supervinnige Midget-jaers sal graag die toeskouers wil trakteer met klipharde en vinnige renne van hoogstaande gehalte.
Die huidige klubkampioen, Schalk Swart, is vir seker die gunsteling, maar sy spanmaat Eugene Gelderblom het dié seisoen gewys dat hy nie ’n tree terugstaan nie.
Die voormalige SA en WP-kampioen Wessel Rabe sal egter sommer vroeg die nuwe seisoen al sy stempel wil afdruk, terwyl Cameron Neethling sy terugkeer maak, nadat hy sy motor geheel en al in ’n vorige byeenkoms verwoes het.
Sherrif Strand-viersilinder-kontak-klas
Klippie Minnie W8 in sy haastige VW Polo Classic is tans die man wat die pas aangee. Sy sterkste kompetisie sal kom van W88 Rico Prinsloo in sy VW Caddy- bakkie en Pieter Liebenberg in sy VW Beetle. Jaco van Zyl in sy Mazda Capella is al ’n gesoute deelnemer in die klas tesame met Waldo Jordaan in sy Escort. W7 Francois Blom het sy Escort verruil vir ’n Opel Monza en hy hoop om sommer van die begin af saam met die voorste manne te jaag.
Discount Boards & Timber Heavy Metals
ZA1 Pieter Human in sy baie indrukwekkende BMW moet vir seker die gunsteling wees om sy titel te verdedig. ZA2 Martin vd Westhuizen (huidige klubkampioen) sal egter een plek op die podium wil verbeter en sal daarom hard in Human se nek blaas. W80 Francois Smit was verlede jaar baie ongelukkig om nie met ’n SA nommer huis toe te kom nie en sal daarom sy BMW so hard as moontlik druk om sake reg te stel.
1660- gemodifiseerde sedanklas
W47 Kosie Weyers in sy Tigra Flexi met ’n VW Golf-enjin is die gunsteling om met die ZA1-nommer weg te ry. Kosie is ’n veelvoudige nasionale kampioen in verskeie afdelings van die sport, het baie ervaring in groot byeenkomste en kan onder druk presteer. W64 Steven Buys (ook in Tigra Flexi met Nissan-krag) het al jare ondervinding in ovaalbaanrenne en sal dus ’n gevaarlik teenstander wees.
DQ Auto & More V8 Flexi-klas
Span Bloemfontein stuur ’n gedugte groepie V8-jaers om ’n ZA-nommer of twee terug te vat na die Rosestad. B707 Pieter van der Merwe, B717 Flip van der Merwe sowel as B10 Ryan Marais en B9 Kevin Ralph tesame met B71 Bennie de Bruyn (George) is op ’n missie en dit is om die plaaslike jaers J.D. Truter, Quentin Muller, Manfred Oehl en JJ de Wet te wys hoe ’n V8 gery moet word. Die twee Van Der Merwes van Welkom is verwant aan die legendariese V8-jaer Andries van der Merwe van Bloemfontein.
Landy Centre 1600 Saloons (Stockrods)
Veertien van Mega Oval se beste stockrods gaan meeding – nie vir klubpunte nie, maar vir ’n ZA titel. Met slegs die huidige ZA2 Jandre Visagie wat ingeskryf het, los dit die deur oop vir ’n heel nuwe ZA1 tot ZA3. Hoewel al die inskrywings van die plaaslike klub is, beteken dit nie dat dit minder mededingend gaan wees nie. Stockrods by Worcester is een van die grootste en mees mededingende klasse. W5 Llewellyn Kotze (Golf MK2) is self ’n voormalige Womza ZA1-titelhouer in die Hotrod-klas en moet gewis saam met Jandre Visagie ZA2 Golf MK1 die gunsteling wees. Petrus Ferreira W224, William Gray W107, Braam Bosman W104, Sarel Smal W45 en W911 Jaco Jacobs sal die Paarl se naam wil hoog hou, terwyl W88 Nastasha Whitehorn en Leane Valentyn W92 namens die vroue die manne sal aandurf.
Breedevallei Truck Centre Hotrods
Vyftien van Suid-Afrika se beste Hotrod-jaers is op die wegspringrooster vir die byeenkoms. Al drie van die huidige ZA titelhouers gaan ook hul titels probeer verdedig. Die plaaslike jaers W10 Pieter Swanepoel (voormalige SA titelhouer), W205 Willie Germishuys (voormalige klubkampioen), W115 Jean Robberts (huidige klubkampioen) en W444 Tersius van Tonder (voormalige SA kampioen) asook W14 Gerhard Kloppers en W56 Hank Els gaan vir seker getoets word teen ’n gedugte renveld uit Bloemfontein en Rustenburg. Die verdedigende ZA1 Keogen Maartens en sy suster Lonika Maartens kom van Rustenburg. Hulle is die kinders van die baie bekende Hotrod-jaer van die verlede, Matty Maartens. Hoewel hulle baie bekend op die teerbane in die Noorde is, is hulle ewe tuis op die grondbane, en Keogan is nie verniet die huidige ZA1 nie.




