’n Ma is gebroke nadat haar agtjarige outistiese seun by die skool seksueel aangerand is.

Die voorval het glo op 6 Maart in die seuns se toilette gebeur.

Volgens die vrou, wat anoniem wil bly, word haar seun nou al vir ’n geruime tyd geboelie.

Dit is egter hierdie voorval wat haar op haar knieë laat neerval het.

“Ek was besig om myself reg te kry vir werk. Ek het daai dag 16:00 ingeval. Ek kry toe ’n WhatsApp-boodskap van my seun se onderwyser af. In die boodskap sê sy vir my dat my seun deur twee ander seuns in die toilet seksueel aangerand is. Hulle het my seun saam met hulle in ’n toilethokkie toegesluit en dinge gedoen,” verduidelik die vrou terwyl die trane oor haar wange rol.

Sy sê dat sy in daardie oomblik buite haarself was en haar onmiddellik na die skool gehaas het.

“Ek het pad-af gehardloop soos ’n mal mens. Toe ek uiteindelik by die skool aankom, het ek by die juffrou se voete inmekaar gesak. Toe ek met die hoof oor die voorval wou praat, was hy nie eens bewus daarvan nie. Die juffrou het dit nooit by hom aangemeld nie.”

Sy noem ook dat sy direk daarna na ’n dokter toe is en toe na die polisiekantoor.

“Die dokter kon nie toetse doen nie, want hy het nie die nodige toebehore gehad nie. By die polisiekantoor het ons ’n klagte teen die twee seuns aangemeld. ’n Maatskaplike werker is die volgende dag na die skool toe, asook die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se kringbestuurder.”

Sy het self verder die situasie onder die aandag van die WKOD gebring. Die WKOD het hierdie stelling beaam.

“Die ouer het dit direk by die distrik aangemeld. Die ma het na bewering ’n kennisgewing van die skool ontvang. Die distrik het met die skool geskakel. Die gespesialiseerde leerder-en-opvoeder-ondersteuningspan is gestuur om in die saak te help,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, gesê.

“ ’n Skool- maatskaplike werker het met die waarnemende skoolhoof vergader om die saak en die pad vorentoe te bespreek. Die tugproses is aan die gang,” het Hammond met betrekking tot die leerders wat by die saak geïmpliseer is, gesê.

Nog iets wat die seuntjie se ma ook grief, is dat albei seuns haar kind al voorheen geboelie het.

“Dis die einste twee wat my kind verlede jaar in ’n oop drein op die skool se perseel gedruk het en dit wou toemaak. Hierdie voorval is ook onder die skool se aandag gebring, maar niks het daarvan gekom nie.”

Met die skool wat nou weer begin, is die hartverskeurde ma huiwerig om haar kind na dieselfde skool terug te stuur.

“Hoe kan ek my kind weer na daai skool toe stuur met die wete dat daardie twee seuns nog daar is?”

Die gesin probeer al ’n hele ruk om die seuntjie by Langerugskool geplaas te kry. Hy gaan binnekort vir observasie by die skool en sal dan hopelik in die derde kwartaal daar kan begin.

“ ’n Aansoek om spesiale plasing word tans verwerk. Die leerder is vir ’n siftingsproses gedurende die tweede kwartaal van 2024 genooi,” het Hammond verduidelik.

Sy verduidelik ook wanneer so iets by ’n skool gebeur, is daar duidelike stappe wat beide die opvoeder en die skool onmiddellik moet neem.

“Die ‘Abuse no more’-protokol moet deur alle rolspelers gevolg word. Opleiding is in die protokol aan alle skole verskaf.”

Dinsdag (2 April) was Wêreld-outisme-bewusmakingsdag.

“Outisme het ’n verskillende impak op elke individu en nie alle leerders met OSV (outisme-spektrum-versteuring) vereis inskrywing by ’n spesiale skool nie. Leerders op die OSV-spektrum word ook by hoofstroomskole geakkommodeer.”

Laastens voeg Hammond by dat daar by skole onderwysers is wat spesifiek opgelei is om met kinders op die outisme-spektrum te werk. “Daar is onderwysers in hoofstroomskole wat opgelei is in OSV, met spesifieke strategieë en intervensies. Die aantal wat opgelei is, is nie beskikbaar nie aangesien daar verskeie maniere van opleiding is, sommige privaat of deur ons distriksondersteuningspanne.”

Die ma van die seuntjie hier ter sprake sê haar kind het baie ná die voorval verander en dat hy vir ’n familielid presies gewys het wat aan hom gedoen is.

“Hy het vir my niggie in detail gewys wat gebeur het. Sy het ’n video-opname daarvan gemaak, maar ek kan nie myself bring om dit te kyk nie. Waar hy in die verlede nie baie praterig was nie, praat hy nou baie meer. Hy het ook nooit vir my ’n hele storie vertel nie, maar deesdae vertel hy vir my alles.”

. Die “Abuse no more”-protokol is op die Wes-Kaapse regering se webtuiste beskikbaar. Besoek westerncape.gov.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article