Kacey Musgraves sing “when it rains, it pours, but you didn’t even notice, it ain’t raining anymore. It is hard to breathe – you are stuck in the same old storm again, you hold tight to your umbrella – but I am trying to tell you, there is always a rainbow over your head. So that you can see that I see”, in haar liedjie “Rainbow.”
Om te versorg of te sorg is Philippa Nell (12) van Worcester se “rainbow”. Dit is haar roeping en doel vir die tyd wat sy op hierdie aarde deurbring – om te versorg.
Philippa is ’n leerder by die Langerug Skool in die ASD-afdeling (ASD – Autism Spectrum Disorder, outismespektrumsteuring).
Waar ander kinders van haar ouderdom smiddae sport beoefen of by maatjies speel, is Philippa haastig op pad werk toe, want sien, haar passie – en soos baie van die versorgingspersoneel by die Hooggelegen-sorgeenheid sal beaam – is dat Philippa ’n gebore versorger is.
Haar liefde en omgee vir die bejaardes is sigbaar. Met baie geduld en aanraking en sorg sal sy saam met die versorgingspersoneel hulp verleen. Sou dit wees om wasgoed weg te pak, of te help voer, of miskien ’n rolstoel rond te stoot, of net ’n geselsie aan te knoop, ’n glasie water te gaan haal of iemand se tee koud te blaas.
En al kan Philippa nie lees of skryf nie, ken sy al die inwoners se name asook kamernommers. Sy weet ook wie meer hulp benodig as ander.
Sy smeek smiddae om laat te kan werk. Om 16:30 sing sy vrolik saam aan die liedjies voor middag-Godsdiens. Hulp word verleen aan almal wat eetsaal toe moet gaan.
Hierdie is ’n storie van hoop vir ander ouers met kinders met leerhindernisse / outisme / agterstand of wat ook al.
“Daar sal ’n plekkie iewers wees vir jou kind,” sê Philippa se ma, Karlien.
“Hoeveel kinders in hoofstroomskole weet nie wat hulle eendag sal wil doen nie? Ek kan met ’n geruste hart sê – ek weet presies wat Philippa ná skool sou wou doen.
“En dit het sy al geweet – en ek – toe sy seker nege jaar oud was.”
Philippa het aan die begin van 2024 na die Vaardigheidsklas in Langerug Skool geskuif. Hier leer hulle allerlei vaardighede en volg nie noodwendig die hoofstroom- CAPS (Kurrikulum- en assesseringsbeleidsdokument) nie.
“Toe Philippa by Langerug Skool begin het, het ons steeds die hoop gehad dat sy wel – met die ekstra hulp – sou leer lees en skryf en sodoende kan begin met CAPS om dan ook eendag matriek te kan skryf. Want wat sou van haar word sodra sy 18 jaar oud is en die skool moet verlaat?
“Maar net soos die meeste van ons, lewe ons in ’n wêreld wat ’n wedloop is wat ons hardloop met oogklappe aan. Nie almal is dieselfde nie, dankie tog daarvoor. Outisme het baie reëls, insidente, trane, frustrasies, hartseer, hoop, drome en wense – wat toegesluit bly in elke huishouding wat met outisme gekonfronteer word.
“ ’n Huis met outisme se ‘normaal’ is nie die gewone ‘normaal’ nie. Die stel reëls in so ’n huishouding is net anders – ouers wat dit daagliks ervaar, sal weet waarvan ek praat.
“En ja, Philippa gaan nie ’n matrieksertifikaat hê nie, sy gaan ook nie universiteit toe nie. Daarmee het ons vrede gemaak. ’n Doel het sy wel – ’n liefde vir sorg en ’n omgeehart – en daarvoor hoef jy nie ’n graad te hê nie. Jy is óf daarmee gebore óf nie. En as ’n mens vir ’n oomblik stilstaan, besef jy dis eintlik al wat saak maak.
“Ek wens tog meer mense is net soos Philippa, en hierdie mamma sê gereeld dankie vir die uitdaging wat my kant toe gekom het. Hoe saai sou my lewe nie sonder haar gewees het nie; my uitkyk op die lewe, tog so eenvoudig,” voeg Karlien by.. April is Outisme-bewusmakingsmaand. Dit verg baie moed elke dag vir ’n outistiese kind om hierdie wêreld te betree.





