Die vermiste 68-jarige Steven Morries, oor wie Standard verlede week berig het, is veilig opgespoor.
Steven het Sondag 30 Oktober spoorloos verdwyn nadat hy sy kleinseun Ryno (24) vertel het dat hy gou inkopies gaan doen en dan by ’n familievriend sou gaan kuier het.
Standard het verlede week die berig gepubliseer nadat Ryno baie bekommerd was oor sy oupa se verdwyning.
“Dit is nie in sy aard nie. Sy selfoon is nog hier by die huis en ons het geen idee waar hy is nie. Hy is effens verstrooid, maar hy sal nie net so iets doen nie.”
Familievriende van Steven het Donderdag (10 November), enkele ure nadat Standard op straat verskyn het, na Ryno uitgereik en hom ingelig dat sy oupa al van die vorige week af by hulle op ’n plaas net buite Wolseley kuier.
“Ek was dankbaar vir die goeie nuus, maar ek was baie kwaad ook. In vandag se tye kan ’n mens nie net so verdwyn nie. ’n Mens verwag altyd die ergste. Blykbaar het hierdie familievriende hom by Shoprite in die dorp gekry en gevra hy moet by hulle gaan kuier. Hy is saam met hulle in ’n voertuig soontoe en het aangebly – sonder klere, sy selfoon; niks nie,” verduidelik Ryno.
Hy sê sy oupa het om verskoning gevra dat hulle die hele buurt van Hexpark op hol gejaag het.
Hy was baie verstom toe iemand met ’n koerant op die plaas aankom en sê sy familie soek na hom.
“Hy het jammer gesê en was eintlik verstom dat ek kwaad was. Hy is nie eintlik daaraan gewoond om aan iemand te rapporteer nie, maar jy kan nie vir jou familie by wie jy bly, sê jy gaan inkopies doen en net nie terugkom nie. Ek ken nie die mense by wie hy gaan kuier het baie goed nie. Ek het al van hulle gehoor, maar nooit gedink hy sou daar eindig nie,” voeg Ryno by.
Intussen klink dit of Steven vir eers by die familievriende gaan aanbly en met opknappingswerk op die plaas gaan help.
“Ons is net dankbaar hy is veilig, maar ek hoop hy het ’n les geleer,” sê Ryno.





