’n Oupa van De Doorns, wat deur sy kleinseun ’n liefde vir die atletiek ontwikkel het, beplan nou ’n atletiekbyeenkoms in die dorp.

Japie Booysen het in 2015 sy kleinseun, wat toe ses jaar oud was, begin afrig. Hy het seker gemaak hy woon kursusse by om ’n geregistreerde afrigter te word. Mettertyd het hy ook ander kinders in die dorp begin afrig en goeie resultate het begin volg.

Nou wil hy meer geleenthede en blootstelling aan plaaslike kinders bring deur middel van die Hexvallei-atletiek-uitnodigingsbyeenkoms.

“Daar is sover 67 atlete wat op 14 September by ons gaan aansluit. En dis nie net atlete van De Doorns nie; atlete van die Universiteit Stellenbosch, die Langeberg en ook ander plekke kom ook.”

Booysen verduidelik die rede hoekom hy en sy mede-afrigters besluit om hierdie byeenkoms te hou, is omdat atlete van die streek altyd na ander streke moet reis om aan sulke byeenkom­ste deel te neem.

“Ons kinders het nie die geleenthede om plaaslik aan atletiek­byeenkomste deel te neem nie. Hulle kry nie gereeld die blootstelling buite hul skole nie. Toe reik ek uit na Boland-atle­tiek, asook die Ace Foundation en ander rolspelers om hierdie idee te verwesenlik.”

Hy nooi graag ander plaaslike atlete van ses tot 20 jaar oud om aan die byeen­koms deel te neem.

Op die dag sal die atlete aan die volgende wedlope kan deelneem: 60 m, 80 m, 100 m, 200 m, 400 m, 800 m, 1 200 m, 1 500 m en 3 000 m.

“Ons sien verskriklik baie uit hierna. Al ding wat ons net nie self kon kry nie, is medaljes vir die verskillende wenners. As iemand ons dalk hiermee wil help, sal dit waardeer word.” . Bel Japie Booysen by 082 332 8560 om hulp aan te bied of vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article