’n Man van Worcester, wat al van kleintyd af by sy oupa woon, is al sedert verlede naweek op soek na hom.
Steven Morries (68) van Hexpark het Sondag (30 Oktober) vir sy kleinseun, Ryno Morries (34), om 13:00 gesê hy wil gou vinnig winkels toe gaan en daarna by ’n vriend in Riverview gaan draai.
Toe Ryno se oupa teen 21:00 nog nie tuis was nie, het hy bekommerd geraak.
“Hy gaan slaap gewoonlik vroeg. Ek het dadelik bekommerd geraak, want dit is nie hoe hy is nie. Hy het sy selfoon ’n week vantevore verloor en ons moes nog vir hom ’n foon gaan kry. Nou is hy net weg,” verduidelik Ryno.
Hy vertel dat hy en sy hele straat heeltyd na sy oupa soek en dat hy by die dag meer bekommerd raak.
“ ’n Mens verwag die ergste. Dit het al in die verlede gebeur, maar nie baie nie. Dit was ook nog nooit so lank nie. Hy is nie iemand wat gewoonlik net sal verdwyn sonder om ons in kennis te stel nie. Ons was al by al die hospitale. Ons probeer net my oupa veilig terugkry by die huis.”
Ryno sê hy het sy oupa as vermis aangemeld en wag vir antwoorde.. Enigeen wat Steven Morries gewaar, kan Ryno Morries by 073 647 2219 bel.





