Ouma Sophie Booysen geniet op 99 jaar nog steeds die lewe.Foto: Enrico Claassen


’n Geliefde ouma van Brookestraat in Riverview, Worcester, het Maandag (12 Junie) haar 99ste verjaardag saam met familie en vriende gevier.

Hoewel ouma Sophie Booysen op die drumpel van 100 jaar staan, is sy nog net so onafhanklik soos altyd.

Sy kook, bak, maak huis skoon, doen naaldwerk, gaan gereeld kerk toe en stap – met die hulp van haar kierie – steeds winkels toe om haar inkopies te doen.

Voorts is die Turkse televisie-sepie Elif haar gunsteling. Niemand durf haar onderbreek wanneer Elif op die skerm is nie.

Ouma Sophie is in 1924 in Kroonstraat, Worcester, gebore. Sy is een van tien kinders, van wie die res almal reeds oorlede is.

Ouma Sophie was nooit getroud nie.

George Jooste, wat sy as jong meisie in Worcester ontmoet het, was egter die liefde van haar lewe. Dié twee was onafskeidbaar.

Die twee verliefdes het destyds – toe hulle nog bloedjonk was – afgesit De Doorns toe, waar hulle op verskeie plase, waaronder Orchard, gewerk het.

In latere jare het hulle Touwsrivier toe verhuis, waar hulle saam huis opgesit het.

Ouma Sophie en oom George het ’n seun saam gehad. Hy is egter sowat ’n maand ná sy geboorte skielik oorlede. Volgens ouma Sophie het haar kind erge stuiptrekkings gekry.

Haar oorlede suster se kleinseun, Deswill Adonis (56), sê oom George het ouma Sophie in 2007 ontval.

Hy sê ouma Sophie het – ná oom George se afsterwe – nog ’n ruk alleen in hul Touwsrivier-huis aangebly, totdat hy haar in 2010 inderhaas moes gaan haal om by hom in te trek nadat sy geval en haar heup gebreek het.

Volgens Adonis het ouma Sophie sowat twee dae hulpeloos met haar gebreekte heup op haar slaapkamervloer gelê.

Hy sê die bure het begin bekommerd raak en die polisie ontbied. Volgens hom is ouma Sophie toe hospitaal toe, waar sy dringende behandeling ontvang het.

Ouma Sophie sê sy is baie gelukkig by Adonis en voeg by “hulle versorg my mooi”.

Adonis sê benewens effense hoë bloeddruk, ’n bietjie artritis en haar gehoor wat nie meer 100% is nie, skort verder niks met ouma Sophie se gesondheid nie.

Hy beskryf ouma Sophie as “iemand wat sommer gou in ’n mens se hart kruip”.

“Maar so liefdevol soos sy is, kan sy ook lekker streng wees,” skerts Adonis.

Ouma Sophie het haar verjaardag Maandagaand met ’n biduur afgesluit toe haar kerkmense kom kuier het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article