Die N1 is Sondagaand ná ’n noodlottige ongeluk vir ure gesluit. Foto: One-Way Towing


’n Ouma en haar eenjarige kleindogter is Sondagaand dood nadat hulle deur ’n motor op die N1 getref is.

Volgens sers. Vivian Hurling-Jordaan, ’n woordvoerder van die Rawsonville-polisie, het die kleuter se ouers reeds die pad oorgesteek toe die ongeluk gebeur het.

“Die 60-jarige vrou, haar kleindogter en haar man is al drie deur die motor getref terwyl hulle die N1 op pad na die Kliprivier-plaas oorgesteek het. Die kind se ouers het die pad kort voor hulle oorgesteek. Paramedici het die meisietjie en haar ouma op die toneel dood verklaar,” het Hurling-Jordaan gesê.

Die ongeluk het om agtuur Sondagaand (20:00) gebeur en as gevolg hiervan was die N1 in beide rigtings vir verkeer gesluit. Die pad is eers ná 22:00 heropen.

Volgens Hurling-Jordaan het die motor, ’n Hyundai, uit die rigting van Paarl na Worcester gery.

“Die man wat ook getref is, het erge beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem. Dit is nie duidelik of hy al uit die hospitaal ontslaan is nie, maar ons weet hy moes ’n operasie ondergaan,” het Hurling-Jordaan gesê.

Sy sê die bestuurder van die Hyundai het ook beserings opgedoen.

“Die bestuurder is ook na die hospitaal geneem,” het sy aan Standard gesê.

Hurling-Jordaan het bevestig die bestuurder van die motor is nie in hegtenis geneem nie, maar het bevestig die Rawsonville-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. . AO Joseph Swartbooi, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gevra enigiemand met inligting oor die ongeluk moet Crime Stop by 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article