“Ouma Kersfees” se Kersfeespartytjie vir die Shalom-ouetehuis vir Dowes en Lewensruimte vir Dowes is ’n jaarlikse instelling wat baie groot vreugde aan vele besorg – en vanjaar was die Kersfeespartytjie die grootste nog!
“Ouma Kersfees” is die geesteskind van Tannie Margaret Swart, wat Reüniepark se komiteelid in wyk 7 is.
Tannie Margaret hou haar Kersfeespartytjie vir Shalom en Lewensruimte se inwoners al vir jare.
Sy woon in De la Batweg oorkant die Nasionale Instituut vir Dowes en dit was vir haar altyd so opvallend hoeveel van hierdie inwoners op Kersdag dan maar net daar op die terrein agterbly, omdat nie almal ’n huis of familie het om oor die vakansietyd na toe terug te gaan nie.
Gevolglik het Tannie Margaret toe met hierdie inisiatief begin om al hierdie inwoners in die vakansietyd te bederf en hulle daaraan te herinner dat die res van die dorp ook vir hulle omgee.
Tannie Margaret se voorbereidings vir hierdie spesiale dag begin al drie maande voor die tyd wanneer sy al die reëlings begin regkry en skenkings uit die gemeenskap vra.
Telkens bly dit elke jaar net ongelooflik hoe vrygewig die gemeenskap is wanneer dit by die omgee vir ander kom.
Sodra Tannie Margaret laat weet wat sy nog kort, is daar telkens dadelik ’n vrywilliger in die gemeenskap wat hand opsteek en na vore tree om hulp aan te bied.
Sonder al hierdie vrywilligers sal hierdie spesiale dag – wat so ’n groot verskil in soveel se lewe maak – nooit moontlik gewees het nie.
Die raadslid Julian Kritzinger het die Kersboodskap gebring, met die teksgedeelte uit Titus 3: “Maar toe het die Goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming.”
Die dag het vele hoogtepunte vir die 45 inwoners gehad: Sinterklaas wat met ’n tamaaie sak vol presente in ’n brandweerwa aangekom en geskenke vir almal uitgedeel het; die heerlikste eetgoed en snoeperye wat vir almal gedek is; tot selfs ’n besoek deur die Breedevallei-kiesafdeling se parlementslid, Conrad Poole, L.P.
Toe die brandweerwa met Sinterklaas met loeiende sirenes en flitsende ligte om die draai kom, het die blydskap en verwelkoming breekpunt bereik, aangesien haas elke inwoner buite vir Sinterklaas ingewag het.
’n Sinterklaas is lanklaas so hartlik gegroet soos by Shalom-Ouetehuis en almal wou eers vir Sinterklaas persoonlik kom ontmoet en blad skud met hierdie vriendelike man wat dan nou hier vir almal presente bring!
Elke inwoner het sy eie Kersgeskenkie gekry, en dan het die ouetehuis ’n boks met 16 pragtige legkaarte gekry wat Worcester Vrymesselaars geskenk het en wat die inwoners dan heerlik in die middae buite in die son kan sit en mekaar help om die legkaarte te pak.
Nadat almal die brandweermanne ontmoet het en foto’s by die brandweerwa geneem het, het hulle vir hul Kersete gaan aansit.
En het almal nie behoorlik gesmul nie!
Hierdie spesiale dag, wat ’n verskil in soveel mense se lewe gemaak het, sou nooit moontlik gewees het as dit nie vir soveel mense in die gemeenskap daar buite was wat net spontaan na vore getree het om te help nie.


