’n Sosialemedia-inskrywing wat verskeie bewerings oor die Awendrus-tehuis vir bejaardes maak, het onlangs baie aandag getrek.
Volgens die inskrywing is daar ’n tekort aan kos by die tehuis, wat in Van Zyllaan, Worcester, geleë is.
“Die dringendste kwessie is die kommerwekkende gebrek aan kos, wat ons glo die ergste vorm van bejaardemishandeling is. Ons bejaarde inwoners ly geweldig, en ten spyte van talle klagtes het die departement van maatskaplike ontwikkeling versuim om sinvolle stappe te neem,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.
Verder sê die skrywer hierdie is glo ’n gereelde probleem by die tehuis.
“Betroubare bronne het gemeld dat voedseltekorte by die ouetehuis ’n herhalende probleem is, wat dikwels die kaste kaal laat en inwoners van voedsame maaltye ontneem. Hierdie situasie is onaanvaarbaar en vereis onmiddellike ingryping.”
Die tehuis word wel deur die departement gefinansier, maar die departement is nie by die bestuur betrokke nie.
“Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling verskaf finansiering aan Awendrus, maar hy besit of bestuur nie die fasiliteit nie. Dit beteken ons het nie insette oor die voedselbegroting nie, maar daar is norme en standaarde waaraan die fasiliteit moet voldoen soos deur die finansieringsooreenkoms uiteengesit,” verduidelik Monique Mortlock-Malgas, ’n woordvoerder van die departement.
Die inskrywing vra vir vinnige intrede om die beweerde kwessies by die tehuis op te los.
“Ons doen ’n beroep op die betrokke owerhede om vinnig en beslissend op te tree om hierdie kwessies aan te pak en die welstand van ons bejaarde gemeenskapslede te verseker.”
Volgens die departement doen hy gereeld besoeke by sy fasiliteite. Die laaste een het in Oktober verlede jaar plaasgevind en die volgende een by Awendrus word vir Augustus beplan.
“ ’n Formele moniteringsbesoek het in Januarie 2023 plaasgevind, en ’n moniteringsbesoek is in Oktober 2023 gedoen toe klagtes oor die kos geopper is. Die departement is voortdurend in kontak met die waarnemende bestuurder van die fasiliteit, en nog ’n moniteringsbesoek word vir Augustus beplan. Die departement het ’n ondersoek gedoen. Dit is afgehandel en aan die forensiese eenheid van die departement van die premier oorhandig,” het Mortlock-Malgas verduidelik.
Standard & Gazette het twee keer probeer kommentaar kry by die waarnemende bestuurder van die tehuis. Albei kere is belowe dat ’n man sal terugbel. “Ek het met meneer Shaun Petersen gepraat en hy het gesê ek moet niks kommentaar lewer nie. Ek sal vra hy moet die koerant bel wanneer hy inkom kantoor toe,” het die bestuurder Dinsdagoggend gesê.
Ná nog ondersoek op sosiale media het Standard & Gazette afgekom op ’n inskrywing gedateer 8 Junie waarin die skrywer ook bewerings oor die tekort aan kos maak asook dat die instansie se wasmasjiene en tuimeldroërs nie werk nie.
Petersen, wat in die raad van die tehuis dien, het hierop kommentaar gelewer: “Awendrus het nog altyd ’n oopdeur- beleid gevolg. Ek weet nie vir wie jy ’n punt wil bewys nie. Jy weet natuurlik baie meer van besigheid af as ek,” lui ’n gedeelte van een van sy kommentare.
In ’n ander kommentaar vra hy mense moet hulself vergewis van die feite.
“Die mens/mense wat pics gepost het van die klomp nat wasgoed en probeer konsternasie veroorsaak, sal jy/julle nie so gaaf wees om pics te post oor die huidige stand van sake m.b.t. die wasgoed nie asb? Dis mos wat ’n mens goeie verslaggewing noem.”
Petersen het egter teen druktyd nog nie kontak gemaak nie.



