Hoe gemaak wanneer kinders ’n slang op die skoolterrein gewaar? Bly weg en bel so gou moontlik die slangvanger.
Dít is die lank en die kort van die terugvoering nadat Standard onlangs berig het oor bekommerde ouers van ’n skool in Avianpark.
’n Slang is na bewering onlangs op die skoolterrein opgemerk en ’n paar ouers en belanghebbendes het hul kommer daaroor uitgespreek. Hulle het gevoel die skool sal meer moet doen om die situasie te beredder, veral omdat dit glo nie die eerste keer is dat ’n slang hom by die skool tuismaak nie.
’n Plaaslike slangkenner, André du Preez van Silverfox Snake Rescues, vertel aan Standard die skool het hom onlangs gekontak om ’n sessie oor slangveiligheid aan te bied.
“Die skool het my gekontak en gevra of ek in Oktober ’n sessie vir hul leerders sal aanbied. Ek het ingestem, aangesien slangveiligheid vir elkeen van belang kan wees en omrede ek al in die verlede talle slange op en naby hierdie skoolterrein gevang het.”
Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het ook verlede week op navrae hieroor gereageer en gesê onsekerheid het geheers oor of daar ooit ’n slang op die terrein was.
Hulle het bygevoeg veiligheid is altyd ’n belangrike kwessie waaraan hulle aandag skenk en wat die hoof en beheerraad die situasie monitor.
’n Ouer van die skool, Steffinice Muggels, het aan Standard gesê dit is ’n langdurige kwessie en die WKOD het nie na haar mening genoegsaam gehelp om die probleem op te los nie. Sy het ook die situasie voorheen by die beheerraad aangemeld, maar geen poging is verder aangewend om op haar kommer te reageer nie.
Du Preez meen egter die terrein is van so ’n aard dat slange hulself sal tuismaak tussen die bosse, klippe en grond omdat dit naby ’n veld en vleiland gebou is. Die heining sal ook nie toelaat dat slange weer ontsnap nie, aangesien die spasies te klein is.
Hy moes boonop self al tydens die bou van die skool ’n slang of twee daar gaan red.
Met besoek aan die skool was dit duidelik die beboste terrein is gunstig vir vreemde kreature om hulself tuis te maak, maar Du Preez is vol vertroue dat slangveiligheid en opleiding van nut sal wees.
Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD, het bevestig die skool het die hulp van ’n slangkenner ingewin om die situasie te bestuur.
“Die Worcester-omgewing het baie oop stukke grond, veral rondom Avianpark, naby die rivier. Ongelukkig, wanneer dit warm word, kom slange uit. Dit is nie nuut of onbekend vir skole en mense wat in Worcester woon nie.
“Die skool het ’n plaaslike slangvanger gekontak en hy het hulle aangeraai dat wanneer ’n slang opgemerk word, hulle drie meter ver weg moet bly en hom dadelik moet bel sodat hy kan uitkom. Die skool bestuur die situasie.”





