Jerrie Robinson (links) en Mogamat Majiet praat oor die swak 2022-matriekuitslae.Foto’s: Enrico Claassen


Die Kaapse Wynland se onderwys-distrikskantoor in Worcester formuleer nog antwoorde in reaksie op die lang lys griewe wat die Breedevallei-onderwysforum laat verlede maand in ’n vreedsame plakkaat-betoging aan die kantoor oorhandig het.

Só het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, dié week aan Standard gesê.

Gegriefde ouers het ook aan die plakkaat-betoging, wat op 28 Maart voor die kantoorgebou in Durbanstraat plaasgevind het, deelgeneem.

Die Breedevallei-onderwysforum pak die Kaapse Wynland-onderwysdistrik-kantoor aan oor beweerde finansiële wanbestuur, probleme met leerdervervoer, oorvol skole, swak matriekuitslae en disfunksionele skool-beheerliggame by sommige skole in die Breedevallei.

Die forum het die memorandum op die dag van die plakkaat-betoging aan Denise Wesso, ’n verteenwoordiger van die distrikskantoor, oorhandig.

Kort nadat Wesso die memorandum onderteken en in ontvangs geneem het, het die forum die kantoor tot 11 April kans gegee om op die griewe te reageer. Volgens die forum het die distrikskantoor egter nou nog nie op die griewe geantwoord nie.

Hammond kon nie ’n aanduiding gee van presies wanneer antwoorde op die vrae beskikbaar sal wees nie, maar het gesê ’n konsep-skrywe is opgestel en wag op finale aftekening.

Sy het egter bygevoeg dat die distrikskantoor al by verskeie geleenthede met die forum geskakel het.

Hammond het gesê kennis moet geneem word dat die distrikskantoor breedvoerig gereageer het op griewe wat in ’n vorige memorandum deur die forum uiteengesit is.

Volgens haar is ook bevind dat baie van die aantygings in dié memorandum ongegrond is.

Die forum het verlede maand gemeld indien die distrikskantoor nie gou genoeg ag slaan op die lys griewe nie, sal hy die Valke oor die aangeleentheid nader.

Dit volg nadat die distrikskantoor ’n soortgelyke memorandum, wat die forum verlede jaar in Augustus al aan die kantoor oorhandig het, glo bloot geïgnoreer het.

Tydens die plakkaatbetoging het die gewese skoolhoof van Hexvallei Senior Sekondêr, Jerrie Robinson, gesê toe hy – kort voor sy aftrede – nog aan die hoof van die instelling gestaan het, het die skool se matriekslaagsyfer op 94% gestaan. Hy sê verlede jaar het 131 matrieks by dié skool hul eindeksamen gedruip, wat die slaagpersentasie op 45,5% te staan gebring het.

Luidens die memorandum wat later die dag aan die distrikskantoor uitgelees en oorhandig is, was die matriekslaagsyfer vir Breërivier Senior Sekondêr (62%), Esselenpark Senior Sekondêr (57,7%), Vusisizwe Senior Sekondêr (52%), Zweletemba Senior Sekondêr (51,5%) en Worcester Senior Sekondêr (40,5%).

Mogamat Majiet, die adjunkvoorsitter van die forum, het by die geleentheid ’n paar klappe na die distrikskantoor gemik.

Hy beweer tradisionele skole in die sogenaamde bruin en swart gebiede word vandag nog soos in die Apartheidsjare behandel.

Volgens hom is skoolbeheerliggame by sommige skole disfunksioneel omdat dit (skoolbeheerliggame) “gekaap” word.

Majiet beweer die distrikskantoor dink niks van ouers nie en pleit by die kantoor om ouers en kinders met respek te behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article