Rhodney Visagie van die Breedevallei-forum in gesprek met die Kaapse onderwys-distrikskantoor.Foto: Enrico Claassen


Die ouers van sowat 200 leerders van Rawsonville, wat nou al weke lank skool misloop omdat hulle nie vervoer het nie, het breekpunt bereik en Dinsdag (16 Mei) uit frustrasie na die kantoor van die Kaapse Wynland-distrik se onderwyskantoor in Worcester opgeruk om hul misnoeë uit te spreek.

Francois Ruiters, wat die ouers verteenwoordig, het aan afgevaardigdes gesê net sekere leerders kon aan die begin van verlede kwartaal se eksamen van Rawsonville af van leerdervervoer gebruik maak.

By nadere ondersoek het hulle vasgestel die onderwysdepartement het ingevolge ’n kontrak met die betrokke busdiens net voorsorg getref vir 250 leerders, terwyl die res gestrand is.

Die leerders is verbonde aan Esselenpark Senior Sekondêr, Worcester Senior Sekondêr, Breërivier Sekondêr en skole in Zwelethemba.

Ruiters het die distrikkantoor versoek om in te gryp omdat die eksamen op hande is.

Hy het ook namens die ouers versoek dat die kontrak tussen die departement en betrokke buskontrakteurs so gou as moontlik hersien word om die ander leerders by te reken.

Ruiters sê weens die feit dat die regering nie vir die vervoer van sommige leerders betaal nie, het die busmaatskappy besluit om ’n streep te trek omdat hy hom uiteindelik in die voet gaan skiet.

Volgens Ruiters het die gemeenskap besluit om die leerdervervoer van kinders wat veronderstel was om verlede Dinsdag (16 Mei) skool toe te gaan, te staak, “want as een ly, moet almal ly”. Hy sê vingers word na die regering gewys.

Denise Wesso van die Kaapse Wynland-distrik se onderwyskantoor sê die kantoor het Dinsdagoggend opvolgwerk gedoen en is goedkeuring gegee vir die insluiting van leerders in Rawsonville om leerdervervoer na en van Breërivier- en Esselenpark Senior Sekondêr te gebruik. Sy sê Worcester Senior Sekondêr se aansoeke vir leerdervervoer kon eers op 6 Mei by hul hoofkantoor ingedien word.

Volgens Wesso moet ’n proses gevolg word. Die betrokke skool moet eers vra dat ’n kind op ’n roete ingesluit word. Die veiligheid van ander leerders met goedkeuring moet in ag geneem word. Leerders kan nie net op busse toegelaat word nie, want dan weet die departement nie wie dit is nie.

Indien iets met daardie leerder gebeur, moet iemand verantwoording doen hoekom hy of sy op die bus was.

Volgens haar mag net leerders wat goedgekeur is, die leerdervervoer gebruik.

Dit gaan ook oor koste, want ’n buskontrakteur gaan nie betaal word vir kinders wat nie goedgekeur is om op die betrokke roete te wees nie.

Volgens haar gaan die distrikkantoor met skole opvolg oor of hulle nog aansoeke het wat nie ingedien is nie.

Nazeem Dalvy, ook van die distrikkantoor, het aan ouers gesê aansoeke kom van skole af. Wanneer ouers aansoek doen vir ’n laerskool-leerder vir ’n plek in ’n hoërskool, dui die ouer op die aansoekvorm aan of leerdervervoer benodig word.

Volgens Dalvy is dit nie outomaties ’n aansoek vir leerdervervoer nie, maar bloot ’n aanduiding vir die skoolhoof dat hy of sy vir daardie leerder moet aansoek doen.

Sodra die distrikkantoor aansoeke vir leerdervervoer ontvang, word so gou as moontlik aandag daaraan gegee, waarna dit hoofkantoor toe gestuur word.

’n Komitee kry dan die opdrag om na te gaan of alles met die aansoeke in orde is.

Leerders kan slegs op busse toegelaat word sodra die distrik-kantoor toestemming van sy hoofkantoor ontvang.

Volgens Dalvy lê die uitdaging by die aanvanklike aansoek. Hy sê aansoeke is nie veronderstel om so lank te neem nie. Volgens hom moes aansoeke vir dié jaar al verlede jaar in November ingedien gewees het.

Nog ’n proses wat Dalvy aan ouers verduidelik het, is wanneer ’n hoërskool byvoorbeeld 200 graad 12’s het en 100 maak gebruik van leerdervervoer, is daar – sodra dié leerders teen die einde van die jaar klaar is met skool en nie meer leerdervervoer gebruik nie – reeds plek vir 100 kinders vir die volgende jaar.

Hy sê skole moet net een vorm voltooi om daardie kinders toe te laat. Volgens hom is die distrikkantoor nie in beheer van die komitee by hoofkantoor wat die finale goedkeuring gee nie.

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê ouers is verlede week aangeraai om die betrokke skoolhoofde te kontak met betrekking tot reëlings vir alternatiewe vervoer vir leerders na en van hul onderskeie skole.

Dit volg nadat skoolhoofde volgens Ruiters onderneem het om intussen alternatiewe vervoer vir die leerders beskikbaar te stel.

Sy sê voorts skole is nie bewus van enige leerders wat gemagtig is om van die leerdervervoer gebruik te maak en nié vervoer word nie. Aansoeke vir ’n paar leer­ders is verlede week ontvang en daardie aansoeke word verwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article