’n Besorgde ouer van Rawsonville het namens hom en honderde ander ouers – ook van die Rawsonville-streek – waarvan die kinders as gevolg van die voortslepende komplikasies met leerdervervoer maande lank skool misgeloop het, ’n saak teen die Kaapse Wynland onderwys-distrikskantoor (KWOD) in Worcester gemaak.
Die klagte hou verband met die weiering van onderrig en ressorteer onder die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996.
Die wet lui: “Enige persoon wat sonder regverdigbare rede ’n leerder wat onderhewig is aan verpligte skoolbywoning verhoed om dit uit te oefen, is skuldig aan ’n oortreding en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van nie langer as ses maande nie.”
Sedert Januarie vanjaar het altesame 430 leerders van die Rawsonville-streek skool misgeloop.
Op 1 Junie vanjaar is 317 van die 430 leerders weer toegelaat om van leerdervervoer gebruik te maak.
Standard is in besit van ’n afskrif van die polisie-verklaring.
In die verklaring sê die ouer, Francois Ruiters, namens die ander geaffekteerde ouers dat kinders in Rawsonville per bus na verskillende skole in Worcester vervoer word.
Die verklaring lui dat toe die skooljaar op 18 Januarie 2023 begin het, is van die kinders ingelig hul name is nie op die lys nie.
Daar is met die verskillende skole gekommunikeer, maar ’n oplossing kon nie gevind word om die kinders by die skool te kry nie.
Die verklaring lui verder dat teen 16 Mei 2023 is geen terugvoering nog van skole ontvang nie.
Dis toe dat ouers ’n groep gevorm en besluit het om persoonlik tot by die kantore van die Kaapse Wynland onderwys-distrikskantoor in Worcester te gaan waar hulle hul griewe verbaal gekommunikeer het.
Luidens die verklaring is daar op 17 Mei 2023 met lede van die KWOD-kantoor en hoofde van verskillende skole vergader.
Teen 5 Junie het ouers nog geen terugvoer ontvang nie. Baie van die kinders is nog steeds by die huis.
Van die ouers kan nie bekostig om van private vervoer gebruik te maak nie.
Luidens die verklaring voel ouers dat hul kinders se reg op onderrig hulle ontsê word omdat die verskillende busmaatskappye nie betaal word om die nodige diens aan die gemeenskap te lewer nie.
Met betrekking tot die aangeleentheid word verdere polisie-ondersoekwerk verlang.
By navraag hieroor aan die Wes-Kaapse onderwys-departement het die woordvoerder, Bronagh Hammond, gesê dat die departement nog nie ingelig is oor die klagte nie.
Hammond sê die WKOD sal met die betrokke owerhede saamwerk.
Volgens haar het die WKOD tot vandag nog nie een naam ontvang van ’n leerder wat “die reg op onderrig geweier” word nie, ten spyte van talle versoeke om die departement van name te voorsien.
Sy sê alle kwalifiserende leerders het toegang tot vervoer.





