Jan-Hendrik Hurter (100) Foto’s: Tamsyn Jantjies


’n Hele paar inwoners wat ’n eeu en ouer is, woon in ’n tehuis in De Doorns.

Standard & Gazette het ’n bietjie by dié “goue oues” by Huis Mimosa gaan inloer en gevra hoe hulle oor hul hoë ouderdomme voel. Al vier van hulle meen dis net goedheid en genade wat hulle nog aan die gang hou.

Die honderdjarige oom Jan-Hendrik Hurter loop dalk effens stadig met sy kierie wat op sy geboortedag deur sy pa gemaak is, maar verder is hy redelik gesond en het geen ernstige kwale nie.

“Geen pille en medisyne vir my nie. Ek het ’n aktiewe lewe gelei en die liefde van my vrou, met wie ek al 73 jaar getroud is, hou my aan die gang,” sê dié oom.

Cecilia Lötter sê sy het geen idee hoe sy die ouderdom van 102 gehaal het nie.

“Hoe sal ’n mens dan weet hoe ’n mens so oud raak? Maar hier sit ek nou. En my gesondheid is nog goed. My familie in Touwsrivier wil so graag hê ek moet by hulle kom woon, maar ek kan nie meer myself stort nie. Ek is gelukkig hier by die tehuis.”

Tannie Eliz, oftewel Elizabeth Rabie (100), sit lekker in haar kamer en lees haar boek met ’n vergrootglas.

“Ek is baie lief vir lees. Ek het al baie boeke in my lewe gelees. Dit is regtig ’n voorreg dat ek so oud geword het. Die Here het my gespaar, en ook my gesondheid.”

Op 104 is Johanna Rabie nog hups en lus vir lekker gesels. Sy het onlangs haar verjaardag saam met al haar familie en ’n lekker koek gevier.

“My kleindogter van die Kaap het seker gemaak ons het koek. Ek weet nie hoe ek tot by hierdie ouderdom gekom het nie. ’n Mens vee jou oë uit, dan is jy so oud. ’n Mens vat dit maar soos dit kom. En ek hou ook nie van kla as ’n mens nie nodig het om oor iets te kla nie. Dis so onnodig. Ek is baie gelukkig hier in die tehuis. Ek het geen kwale nie en my liggaam is gesond. My brein werk nog – jy kan my nie vasvra nie. Ek onthou nog my jong dae baie helder,” vertel tannie Hannie, soos sy verkies om genoem te word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article