’n Voormalige hoofseun van Langerugskool in Worcester is só erg in ’n bakleiery aangerand en beseer dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.
Etienne le Roux (22), wat in 2018 hoofseun van die skool was, sê dit was die heel eerste keer dat hy in ’n bakleiery betrokke is.
Die voorval het gebeur toe hy Saterdag (26 Maart) ’n 21ste verjaarsdagpartytjie in Ceres bygewoon het.
“Die partytjie is by Ceres Breweries in Voortrekkerstraat gehou. Die plek was steeds oop vir ander mense ook. Ons het almal lekker gekuier en gesosialiseer,” verduidelik Le Roux, wat nou by die huis aansterk.
Hy sê verder drie mans het later die aand by die kroeg begin kuier.
“Ek wou toe later vir my iets by die kroeg gaan bestel. Dit was vol daar. Een van die drie mans het met sy sykant na die kroeg gestaan terwyl sy een arm op die kroeg gerus het en hy met sy twee vriende gesels het. Agter hom was daar nie plek om te staan nie, maar wel tussen die drie mans. Ek het jammer gesê en teen die kroeg gaan staan en gewag om te bestel.”
Verder, verduidelik hy, het hy skielik ’n rumoer van die drie hoor kom.
“Ek het toe my kop gedraai om die man aan my linkerkant, wie se arm op die kroeg was, te vra wat aangaan. Toe ek omdraai, het hy my onmiddellik aan my keel gegryp en tesame met die ander twee my begin aanrand,” onthou Le Roux.
Hy onthou dat mense ingespring het om die mans van om af te kry.
“Alles het so vinnig gebeur – minder as ’n minuut. Ek het op die grond beland en hulle het my geskop. Gelukkig het ek nie steke gekry nie, maar my neus is wel gebreek.”
Le Roux meen hy is nie ’n aggressiewe mens nie en verstaan steeds nie wat regtig Saterdagaand gebeur het nie.
“Ek was nog nooit aggressief nie. Ek is altyd die een wat seker maak dat al die ander mense oukei is. Ek verstaan regtig nie wat gebeur het nie. Die hele ding het my onkant betrap. My vriende spot en sê gelukkig het die hele ervaring nie my sin vir humor weggeneem nie. Ek is darem oukei. Die hospitaal het berading aangebied, maar ek is oukei.”
Le Roux het ná die tyd ’n klagte by die Worcester-polisie aanhangig gemaak.
“’n Klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer is aangemeld. Die Worcester-polisie het egter die dossier aan die Ceres-polisie oorgegee,” het Le Roux gesê.
Hy het teen druktyd nog geen terugvoering oor die saak gekry nie.



