Altesaam 148 gholfspelers (37 spanne) het Worcester se hitte Vrydag 11 Februarie by die Worcester-gholfklub trotseer en aan Montana se 50-jarige feesjaar-gholfdag deelgeneem.
Die dag is gekenmerk deur goeie gholf en ’n feestelike atmosfeer wat veral deur die aanbieders van die “natgate” verseker is. Heerlike lekkernye soos worsbroodjies, hoenderburgers, lewer in netvet en gebraaide skaapstertjies is aan die spelers voorgesit.
Oudhoofseuns en -leerders het onderling in die hoofseun-challenge meegeding om te bepaal wie van hul spanne die beste gholf kon speel.
Die beste hoofseunspan was die jaargroep van 1987 met André Symington as hoofseun. Die res van sy span was Andrion Gouws, Pierre Rousseau en Jan-Hendrik Hofmeyr.
Die dag het om 10:00 begin en is die aand met die prysuitdelingsgeselligheid in Montana se skoolsaal afgesluit, waar ’n heerlike steak-ete voorgesit is.
Die akteur Neels van Jaarsveld het die gaste vereer met sy deelname en ook met die prysoorhandiging gehelp.
Montana-ondersteuners word hartlik bedank vir hul deelname en betrokkenheid, wat bygedra het tot die dag se sukses.
Sonder elke deelnemer, borgskappe, prysskenkers, oudleerders, die OOV van Montana asook elke ouer en leerder wat gehelp het, sou hierdie mooi dag nie moontlik gewees het nie.





