James Neethling (89), ’n oudhoof van Riverview Primêre Skool, is Vrydag 5 Mei oorlede.
Volgens sy seun, Amadeus, was Neethling al sedert die 1950’s by die onderwys betrokke. Leukemie is egter op 24 Maart vanjaar by hom gediagnoseer.
“Hy het ses maande gelede ’n volle bloedtoets ondergaan en niks was fout nie. Maar ons het skielik begin oplet dat hy verskriklik moeg begin raak. En toe, op 13 April, terwyl hy van Kleinmond af op pad Worcester toe was, het hy begin siek voel. Hy is toe hospitaal toe. Hy is op die 17de na ’n Netcare-hospitaal oorgeplaas en ’n week later na die Mediclinic in Hermanus. Dit is waar hy Vrydag om 01:55 oorlede is,” verduidelik Amadeus.
Amadeus verduidelik sy pa was ’n streng man wat by sy standpunt gebly het. “Maar hy het ook ’n baie sagte hart gehad. Hy was ook iemand wat geweet het wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Hy het altyd by sy standpunt gebly wanneer hy tot ’n besluit gekom het.”
Herinneringe wat hy altyd sal koester, is van toe hy saam met sy ouers en twee ouer susters vakansie gehou het.
“My pa het altyd gesorg dat hy ons in vakansies wegneem. Ons het elke skoolvakansie iewers heen gegaan. Dis iets wat ek altyd sal onthou. My pa was ’n gesinsman en was ook baie lief vir sy vrou.”
Neethling het vir ’n tyd vir die Alberts-rugbyklub gespeel en was selfs ’n skeidsregter in sy tyd.
“Hy was ook by tennis betrokke. Hy was ook by die administrasie van die Boland-laerskole betrokke. Hy was destyds die sekretaris – omdat hy so ’n netjiese handskrif gehad het. Hy was die perfekte pa vir sy kinders. Al was die laaste twee jaar ná my ma se dood moeilik, was hy nog steeds daar vir ons as familie.”
Sammy Louw, ’n oudkollega van Neethling tydens sy jare as hoof by Riverview Primêr, meen dit was vir hom baie insiggewend om saam met hom te werk.
“Ek het hom in 1975 ontmoet toe ek net klaar studeer het. Hy is toe na ’n ander skool en het ’n hele paar jaar later as hoof na Riverview teruggekeer. Ek was toe sy adjunkhoof en het baie by hom geleer in die jare wat ons saam gewerk het. Hy was baie sensitief oor die regte van kinders. Hy het ook baie vir die gemeenskap van Riverview omgegee. Dis by hom waar ek geleer het om huisbesoek by die ouers van skoolkinders af te lê.
“James het ook baie diep in sy eie sak gedelf om die skool te help. Destyds het daar mos net klippe om die skool ‘gegroei’, en hy het die projek begin om die skool se rugbyveld te plant. Hy het baie hard saam met die skool se destydse opsigter gewerk om die voorkant van die skool te verfraai. Hy was baie passievol oor wat hy gedoen het, en met sy aftrede in 1994 het ek sy goeie werk voortgesit,” herroep Louw.
’n Begrafnisdiens word vir Saterdag 13 Mei gereël. Die besigtiging is om 10:00 by die NG kerk in Kleinmond, waarna die diens om 11:00 begin.



