Agter staan Theo Beukes, Faizal Mahri, Hermanus Vorster, Rustum Karriem, Alwie Adams, Magmudh Valley en Charles Beukes. Voor: Faezal Karriem, Charles Cupido, Jolyn Pitt, Bennie Solomons, Connie Steenberg en Piet Sampson. Foto: Tamsyn Jantjies


Dit was ’n belewenis  toe oudfietsjaers uit die jare sewentig en tagtig in Worcester saamgetrek het.

Die saamtrek is gehou deur die inisiatief van Theo Beukes, die oud-Boland- en SA span- agtervolgingskampioen.

Dit was die eerste keer sedert hul gloriejare in die Esselenpark-stadion op die dorp dat dié manne weer op ’n Saterdagmiddag saam was.

“Dit was hartseer om te luister na hul vertellings oor die bloed en sweet vir titels, medaljes en kampioenbekroning op die Esselenpark-fietsrybaan. Die baan is in die jare negentig opgekap om ’n grasbanksitplek vir rugbytoeskouers te voorsien,” sê Charles Beukes, ’n bekende in fietsrykringe in die Boland en Suid-Afrika.

Dit was dan ook geen verrassing nie toe die lokaal vol oudkampioene besluit het om ’n projek te begin om weer ’n fietsbaan vir die streek se fietsryers te kry.

Beukes (Charles), ’n oud-Boland- en ASA-atletiekadministrateur, wat saam met wyle oudburgemeester George Quenét verantwoordelik was vir die eerste sintetiese atletiekbaan in die Boland op Bolandpark, het die fietsryhelde aangemoedig om die daarstelling van die baan te beding.

Hy was destyds organiseerder van die Perfecto-beker/Bloch Prestige atletiek- en fietsrykampioenskap op Esselenpark.

Die naaste fietsbaan tans is in die Paarl en skolefietsry is sterk gevestig by die Hoërskool Montana en die Hoërskool Breërivier in Worcester en in die Vallei.

Die veiligheid van fietsryers en die hoë vervoerkoste vir padwedrenne en oefening daarvoor maak baanfietsry gewild omdat toeskouers dit in groot getalle kan bywoon.

Verder is Magmudh Valley en die broers Fazael en Rustum Karriem van die plaaslike nasionale kampioene wat benoem is vir ere- nasionale SA kleure. Daar is ook besluit dat ’n spesiale erkenningsgeleentheid sal geskied om waardering aan al die plaaslike helde te betoon vir hul dekades lange vermaak op die fietsbaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article