Ouderdom en afstand bemoeilik onderhoud van huis, sê eienaar


‘n Historiese huis in Worcester bring nie net hoofbrekens vir die bure nie, maar ook vir die bejaarde eienaar.

Inwoners in die omgewing kla die besetters wat die huis betrek het, veroor­saak verskeie probleme en laat hulle onveilig voel.

Die eienaar, Francois Greeff, het reeds ‘n kontrakteur genader om die gebou toe te maak sodat die besetters nie toegang daartoe het nie. Die kontrakteur moes verlede week egter sy werk staak nadat die besetters nie wou uit nie.

Greeff, wat in die negentig is en in Bettysbaai woon, sê hy was etlike jare oorsee en het die eiendom 20 jaar laas gesien. Sy ouderdom en die afstand bemoeilik dit in hierdie stadium, het hy gesê.

Volgens hom het hy reeds etlike kere met die munisipaliteit en die polisie geskakel om die probleem te probeer oplos.

“Die huis het eens ‘n houtheining om gehad, wat mettertyd afgesteel is.

“Ons wou ‘n palissadeheining oprig, maar moes toe hoor dat dit bouregulasies oorskry.Die ander huise s’n is egter ook oorskry. Ons moes eers ‘n landmeter kry om die grense van die gebou te teken.

“Die munispaliteit het gesê dit kan tot 30 dae neem om dit goed te keur omdat die owerhede ook moet ondersoek watter water- of gaspype in die omgewing loop,” het hy gesê.

“Die bure help deur my te laat weet wanneer daar weer besetters in die gebou is en bel die polisie. Ek het self ook al met die polisie geskakel.”

Hy beweer dat ‘n politieke party ook betrokke geraak het en die gebou wil laat onteien.

Hy beplan om die huis aan sy jongste dogter na te laat wanneer hy te sterwe kom, sodat sy daar kan woon. Sy ander drie kinders is almal in die buiteland.

Die Breedevallei-munisipaliteit is om kommentaar genader. Sodra dit ontvang word sal dit in ‘n volgende berig bygewerk word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article