PAARL – Die Laerskool Paulus Joubert blom van trots oor hul twee oudleerders Grant Williams en Kurt-Lee Arendse wat Saterdag vir die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf het.
Williams en Arendse het saam by die Laerskool Paulus Joubert begin mini-rugby speel.
Die skool het Saterdag met trots ’n foto van Williams en Arendse in hul Groen-en-Goud op die skool se Facebook-blad geplaas asook ’n inlasfoto van dié twee, op laerskool, saam met hul destydse rugbyafrigter en onderwyser, Sylvia Matthee.
Matthee, wat steeds ’n onderwyser by die skool en tans die waarnemende adjunkhoof is, sê sy onthou steeds die dag toe die foto geneem is.
“Ons het aan ’n rugbytoernooi by Paarl Primêre Seunskool deelgeneem en baie ander skole het ook deelgeneem.
“Kurt-Lee en Grant was my twee uitblinkers daardie dag. Ek het nog gesê ‘jinne manne, kom net hier na my toe sodat ek net ’n foto saam met julle kan neem, julle gaan nog ver kom’,” vertel Matthee.
Sy sê sy was die mini-rugbyspanne – van graad 1 tot graad 3 – se afrigter en haar kollega Christiaan Plaatjies het die senior spanne daardie jaar afgerig. Hy het haar altyd gehelp en raad gegee.
Matthee sê sy is verskriklik trots op hulle, maar sê sy kan nie die eer kry nie, want alle eer kom die Here toe.
“Daardie kinders het bo hul omstandighede uitgestyg, en dit is net die Here se genade.”
Matthee vertel ook hoe sy telkens wanneer dit gereën het, die seuns onderdak by die skool laat oefen het.
“Ons het die skrum in die forum by die skool op die verhoog laat oefen en die lynstane in die forum op die sementblad.
“Ons was baie kreatief en het vir ons plek geskep om te kan oefen,” vertel Matthee.
Die waarnemende skoolhoof, Kenneth Uren, is net so trots op Williams en Arendse.
Hy vertel dat hy ook die geleentheid gehad het om hulle af te rig toe hulle saam vir die o.13-span gespeel het.
Arendse het sy hoërskool-loopbaan by Paulus Joubert Sekondêr voltooi en Williams by die Hoërskool Gimnasium.
Die ander Paarliete wat Saterdag ook vir die Bokke uitgedraf het, was Handré Pollard (’n oudleerder van Gimnasium) wat die manne Saterdag as kaptein op die veld gelei het, en Evan Roos (Boishaai).




