Gavin Joon (25)Foto: Stefan Els


Gavin Joon (25), ’n voormalige Villiersdorp-inwoner wat in 2015 aan die Hoërskool De Villiers Graaff gematrikuleer het en ook daardie jaar die hoofseun was, het reeds op tienjarige ouderdom ’n liefde vir skaak ontwikkel – soveel so dat hy vanjaar sy eie skaakskool in Stellenbosch begin het.

“My vriend se pa het ’n glasskaakbord op sy koffietafel gehad en ek wou weet hoe die speletjie werk. Hy het toe vir my verduidelik hoe elke stuk beweeg en kort daarna het ons ’n spel gespeel,” het Joon vertel.

“Ek het my eerste skaakspel verloor, maar ek het dit my missie gemaak om my vriend se pa te klop, en deur toewyding en voortdurend te oefen, het my droom waar geword. Ek het eers mededingend skaak begin speel toe ek in gr.11 was,” sê Joon.

Sowat sewe jaar gelede het Joon aan die o.20- Suid-Afrikaanse junior-skaakkampioenskap deelgeneem en onder die top-13 in die geslote afdeling geëindig. Dit het hom aangespoor om sy passie verder uit te leef en ’n skaakskool in Stellenbosch te open.

Die Stellenbosch-skaakakademie rig by onder meer die Laerskool Eikestad en die Laerskool Rhenish af, asook die Hoër Meisieskool Paarl en die Hoërskool Rhenish.

“In 2023 alleen het die akademie 13 Kaapse Wynland- (Boland) skaakspelers en een Wes-Kaapse skaakspeler opgelewer. Die Stellenbosch-skaakakademie het ’n baken geword vir skaak­entoesiaste – nie net in Stellenbosch nie, maar ook in Franschhoek, Paarl, Somerset-Wes, Durbanville, Kaapstad en omliggende gebiede,” het Joon aan die EikestadNuus vertel.

Joon vertel dat hy “passievol is oor die kuns wat elke skaakspel bring en graag die “jong mense en skoliere aanmoedig om krities te dink” en terselfdertyd hul kreatiwiteit en verbeelding te verbeter deur te leer om skaak te speel.

Vir meer inligting oor die Stellenbosch-skaakakademie asook die nodige finansieringsgeleenthede, besoek www.chesscoaching.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article