Pastoor Max Strauss, ’n oud-skoolhoof van Worcester, het die jaar op ’n hoë noot afgesluit toe hy onlangs twee boeke op ’n glansgeleentheid bekend gestel het.
Die bekendstelling, wat op Vrydag 6 Desember by die Ebenezer-kapèl in Hartzenbergstraat in Worcester plaasgevind het, is bygewoon deur onder andere pastore van Worcester en omliggende gebiede.
In Deur die Vuurproef gee Strauss ’n kort oorsig van sy lewensverhaal tot 2020 en die vele uitdagings en struikelblokke wat oor sy pad gekom het en wat hy moes trotseer om suksesvol te wees. Hy sê hy het “werklik deur die vuur gegaan, maar –soos goud – helderder uitgekom”.
“Ek het geleer om liewer op God te vertrou as op mense, omdat mense so maklik teleurstel.”
Strauss se tweede boek, Dissipels vir Jesus, is in werklikheid ’n gids wat jong bekeerlinge kan gebruik in hul groei tot geestelike volwassenheid.
Volgens hom kan selfs ouer gelowiges by die gids baat vind.
“Dit behels 23 lesse asook tien vrae wat die dissipel moet beantwoord. Antwoordboeke is ook ingesluit. Die lesse is vir ’n tydperk van meer as tien jaar getoets met jong bekeerlinge tussen 12 en 18 jaar.”
Mense wat in die boeke belangstel, kan Strauss by 076 481 0666 of sy vrou, Wilma, by 082 535 9384 bel.




