Reeds sedert haar hoërskooldae kon Jacolene van Huyssteen met woorde toor en haar lesers in vervoering neem.
Jacolene het in 2019 aan die Hoërskool Montana in Worcester gematrikuleer en noem haarself tans ’n Matie terwyl sy geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Sy is oorspronklik van die Vrystaat, maar noem haarself ’n Worcesteriet nadat sy in die dorp gematrikuleer het en steeds haar familie en vriende hier kom besoek.
Volgens Jacolene het sy reeds tydens haar laerskoolloopbaan ’n liefde vir poësie gekweek, hoewel haar geskryf nie “volkome sin gemaak het nie”, verduidelik sy laggend.
Tydens haar hoërskoolloopbaan het hierdie talent begin ontpop en van daar af het sy gereeld haar gedagtes neergepen.
“Ek hou daarvan om oor die liefde te skryf,” verduidelik Jacolene, maar noem ook dat haar destydse gr.10-onderwyser haar blootgestel het aan soveel meer onderwerpe as nét liefde.
Jacolene het ook nie net ’n liefde vir skryf nie, maar ook ’n talent daarvoor, soveel so dat een van haar gedigte genaamd “wys my” in die digbundel Woordenaars verskyn wat deur Elias P. Nel saamgestel is en wat opkomende digters se werk bekend stel.
Jacolene het in 2021 die nuus ontvang dat haar gedig in die bundel gaan verskyn nadat sy suksesvol deur twee uitdunrondes beweeg het.
En in November 2022 is die bundel vrygestel en kan tans bestel word op Naledi-uitgewers se webtuiste teen R130.
Tans skryf dié Matie-student nie net oor liefde nie, maar ook oor alledaagse aspekte van die lewe, asook oor die dood.
Jacolene verduidelik ook dat sy nie net haar “inspirasie” van haarself af kry nie, maar ook van die mense rondom haar.
Volgens haar vloei die ink die vinnigste uit haar pen wanneer sy oor “pyn en hartseer” skryf.
In 2021 het sy ’n gedig geskryf oor die afsterwe van haar drie ooms, en sy sê dis ’n gedig wat haar altyd sal bybly.
“Val en weer opstaan” handel oor die uitdaging om weer op te staan ná ’n harde val, soos die nuus oor die afsterwe van haar familielede.
Van Huyssteen verduidelik dat sy ook die boodskap wou oordra dat “dit tyd vat om op te staan, en dat ’n mens dit nie altyd hoef te doen wanneer die wêreld dit vra nie”.
Dié kranige digter beoog om volgende jaar haar studies voort te sit en ’n honneurs in sielkunde te voltooi.





