Fransoies du Toit, ’n oudleerder van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy wat in 2020 gematrikuleer het, is ’n bobaas-stoeier en vertrek binnekort na Tunisië om aan die Afrika-stoeikampioenskap deel te neem.

Hierdie toernooi vind van 15 tot 21 Mei in Hammamet, Tunisië, plaas, waar Afrika se topstoeiers teen mekaar sal meeding.

Hierdie is Fransoies se tweede Afrikatoernooi. Hy neem deel in die 67 kg-Grieks-Romeinse kategorie waar deelnemers nie hul bene vir grepe mag gebruik nie.

Volgens sy ma, Susan du Toit, het haar seun eers in 2016 onder leiding van Kurt Herzog begin stoei. Hy het haar uit Drostdy se koshuis gebel en die nuus gebreek.

“Ek was nog besig om te praat toe hy sê ‘ma ek kan nie nou langer praat nie, ek gaan nou stoei oefen’. Ek was heeltemal uit die veld geslaan, want aan sy pa se kant het sy oupa ook gestoei, en stoei afgerig. Sy pa self het ook gestoei, en toe ek sy pa ontmoet het, was sy pa ’n stoei-afrigter,” vertel Susan.

Fransoies se stoei-gene stop nie net daar nie, maar kom ook van sy ma se kant, want haar pa, Fransoies se ander oupa, was ook ’n stoeier en ’n afrigter.

Fransoies se suster, ’n gr.10-leerder aan die HTS Drostdy, is ook ’n kranige stoeier.

Susan het per e-pos aan Standard vertel dat haar seun stoei as ’n buitemuurse aktiwiteit beoefen. “Hy sê daai paar ure se stoei-oefening in die week is sy escape van realiteit af.”

Fransoies werk tans as ’n werkswinkelvoorman en masjienoperateur, asook ’n ontwerper en rekenaartekenaar by CNC Routing in Kaapstad.

Fransoies het hard gewerk in sy kort stoeiloopbaan om homself ’n volwaardige Protea-stoeier te kan noem, en van hierdie prestasies sluit in Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse kampioenskappe, Suid-Afrikaanse kadettekampioenskappe, asook verskeie nasionale proewe.

Hy het ook in 2020 deelgeneem aan die Afrika-kampioenskap as ’n junior stoeier in Algerië waar hy brons verower het. Daarna het hy gekwalifiseer vir die junior wêreldkampioenskap wat in Bulgarye sou plaasvind, maar afgestel is weens die Covid-19 pandemie.

  • Volgens Susan is haar seun se droom oom aan die Ultimate Fighting Championships (UFC) deel te neem, asook om gemengde vegkuns (in sy loopbaan in te bring. Die reis na Tunisië is opwindend, maar kos ook heelwat, met die rekening wat R40 000 beloop.

Die Du Toit-gesin en die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie vra donasies vir stoeiers wat aan die kampioenskap gaan deelneem, insluitend vir Fransoies.

. Vir meer inligting of om Fransoies finansieel te ondersteun, stuur e-pos aan susan@cncrouting.co.za of bel haar op 073 172 8007.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article