Willene Visser floreer 20 jaar nadat sy haar arm in ’n ongeluk verloor het terwyl sy vir die plaaslike brandweer gewerk het. Foto:


Net meer as 20 jaar nadat Willene Visser haar arm verloor het terwyl sy by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se brandweer aan diens was, gaan dit heel goed met haar.

Visser, toe ’n brandbestryder van die BVM, en ’n kollega het in 2003 ’n huisbrand in Hoogstraat geblus toe sy in ’n ongeluk betrokke was. Terwyl hulle op die sinkdank besig was, het die huis se skoorsteen begin inmekaarsak. Sy het van die dak af geval en op haar gesig te lande gekom. Sy het haar kakebeen aan beide kante van haar gesig gebreek. Die skoorsteen het toe op haar linkerarm te lande gekom. Dokters moes etlike ure later haar arm afsit. Visser en haar man het twee jaar ná die ongeluk na Kuruman verhuis en woon steeds daar. Sy bied tans rekenaarklasse en ’n leesprogram vir gr. 1- tot gr. 7- leerders by ’n laerskool aan.

Sy en haar man het ten tyde van die ongeluk reeds ’n tweejarige dogter gehad en ná die ongeluk het die paartjie nog twee kinders in die lewe gebring.

Oor die laaste 20 jaar en veral oor kinders grootmaak ná die ongeluk, sê sy: “Dit bly maar altyd ’n aanpassing. Daar is nie ’n boek wat jou leer wat om te doen nie. Mens leer maar self.”

Sy sê die ondersteuning wat sy van haar familie en vriende ontvang het, was goed.

“Dit maak dit makliker. Maar jy moet jouself ook uitsorteer. Die emosionele deel van die herstelproses het vir my vinniger gegaan.”

Sy wil ook ander wat hulle in dieselfde situasie bevind nadat hulle ’n ledemaat verloor het, aanmoedig om nie te hard op hulself te wees nie.

“Gaan deur al die stappe van rou oor jou verlies. Vat dit dag vir dag. Huil wanner jy wil huil; wees kwaad, maar moenie te bang wees om hulp te soek nie. Dis nie ’n maklike pad nie. Wees goed vir jouself en wees sag met jouself.

“Elke dag bring sy eie uitdagings.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article