Die otterkarnalie wat verlede naweek Reüniepark ophol gehad het, is hier veilig binne ’n wheeliebin waarin hy gevang is.Foto: André du Preez


Die afgelope naweek was daar ’n klein otterkarnallie wat vir groot konsternasie in Greenwoodlaan gesorg het.

Dit is nog onseker vanaf waar die otter sy pad tot by Reüniepark, Worcester, gevind het, maar op Vrydag (19 Januarie) het hy onverwags sy opwagting by ’n huis hiér gemaak.

Hy was oënskynlik honger en gedehidreer – ’n bewys hiervan was dat hy aan ’n paar eendjies gesmul het op die erf van die woning.

Die bekende slangvanger van Worcester, André du Preez van Silwerfox Snake Removals, het gesê hy het vroeg die oggend hieroor ’n oproep van Juenita Everson van Sandy’s Eden-dierewelsynorganisasie ontvang om te vra of hy kan help met die vang van die otter.

Die voorval is ook aan CapeNature gerapporteer.

André is toe inderhaas na die woning in Greenwoodlaan met ’n vanghok. Toe hy daar aankom, het hy die dig begroeide tuin gefynkam vir die otter.

“Ná ’n rukkie sien ek die groot otter tussen plante,” vertel André.

Hy besef hy moes vinnig ’n plan maak voordat die otter verder in die buurt verdwyn. Hy sien toe ’n wheeliebin en kry die gedagte dat dit sal moet werk.

“Ek het die wheeliebin plat neergesit in ’n nabye hoek en ek gooi toe een van die dooie eendjies binne-in. En van die ander hoek van die tuin het ek die otter gejaag en gelukkig gaan hy binne-in die wheeliebin.

Maar nie voordat André verskeie krap- en skraapwonde opgedoen het toe hy deur roosbome moes ploeg nie.

Ná omtrent vyf minute het André die deksel gelig en gesien die otter is vaal en dors. Hy spuit hom toe nat met ’n tuinslang en dadelik baljaar die otter in die water.

Intussen moes André nog ’n gekweste kwaker-eend nekomdraai.

André het kort-kort die ou water uit die wheeliebin laat uitloop en lekker koel water weer ingespuit.

Met die hulp van Sandy’s Eden en Cape Nature is die otter later veilig hervestig.

“Dit was nou ’n wonderlike ervaring om van naby af kennis te maak met die otter. In my meer as 60 jaar op Worcester het ek nog nie hier ’n otter teëgekom nie,” het André gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article