Die orrelis en pianis Johann Enslin en die tenoor Jan Olivier bied Sondagmiddag ’n unieke orrel- en sangkonsert in Robertson aan. Die twee kunstenaars bring klassieke en teatermusiek met hul konsert Classics 2 Broadway bymekaar.

Enslin, tans ’n orrelis in Wellington, het in Robertson grootgeword, waar hy sy musiekonderrig ontvang het. Hy speel werke van Karg-Elert, Guilmant, Peters en Händel op die besonderse Rushworth and Dreaper -orrel, wat in 1932 in die kerk geïnstalleer is. Enslin het vanaf 1995 tot 1998 orrelonderrig op dié instrument ontvang.

Olivier, ’n onderwyser by die Hoërskool Hugenote in Wellington, is bekend vir sy optredes as solis saam met kore. In sy musiekloopbaan het hy verskeie hoof- en ondersteunde rolle in talle produksies gesing. Hy doen uittreksels van musiek uit Mary Poppins, Beauty and the Beast, Chess en Les Miserables.

. Classics 2 Broadway vind Sondag, 14 April om 16:30 in die NGK Robertson plaas. Toegang in die vorm van kollekte. Rig enige navrae aan die kerkkantoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article