Aunt Stienie Scheepers het ná 35 jaar as VGK Worcester-Suid se orrelis uitgetree.


Ná 35 jaar het Christina Scheepers uitgetree as die VGK Worcester-Suid se orrelis.

Aunt Stienie, soos sy aan almal bekend is, verduidelik sy het eers die aanbod om die kerk se orrelis te wees vele kere van die hand gewys.

“Destyds het ds. Williams aanhoudend gevra ek moes die kerk se orrel speel. Ek het altyd nee gesê, want ek het gevoel my opleiding was onvoldoende. Eers later, toe ds. Willem Mackay my weer vra, het ek ingegee,” verduidelik die 79-jarige.

Volgens haar het sy destyds vir een jaar opleiding gekry by ’n onderwyser met die van Africa en toe weer vier maande se onderrig by Ben Cupido.

“Na dit het my oorlede ma vir my geleer. Ek was nog op skool toe ek hiermee begin het.”

Sy bieg ook dat sy baie senuweeagtig was toe sy die eerste keer die orrel op ’n Sondag voor die gemeente moes speel.

“Ek was so senuagtig dat ek glad begin bewe het. Maar na dit het dit beter begin gaan. Ek het daarna lief geraak vir orrel speel.”

Ná haar aanvanklike huiwerigheid het sy later ’n alombekende orrelis op die dorp geword.

As ’n kerk ’n orrelis nodig gehad het, het hulle op haar knoppie gedruk. Daar was ook ’n tydperk waarin sy uitgetree het, maar ná ’n maand is sy teruggeroep.

“En hier is ons nou, 35 jaar later.”

Sy meen ook al hoef sy nie meer elke Sondag in die kerk te wees om orrel te speel nie, sal sy steeds nog elke Sondag die diens wil bywoon.

“Ek mis dit al klaar, wetend dat ek nie meer elke Sondag die orrel in die kerk gaan speel nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article